EFF-kongres kan SA politiek skerp beïnvloed

EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

Die land se derde grootste party, die EFF, kom van Vrydag tot Maandag by Nasrec, suid van Johannesburg, voor een van die strafste toetse van sy kort bestaan te staan wanneer sy tweede nasionale volksvergadering (dis die EFF se naam vir hul nasionale kongres) gehou word.

Duisende EFF-afgevaardigdes sal voor die taak gestel word om leiers vir die party te kies en beleid goed te keur wat die EFF se handel en wandel vir die volgende vyf jaar sal rig.

Daar is tans nie veel inligting bekend oor wie die kandidate vir die topses-leierskapsposisies in die EFF sal wees nie, omdat die party se reëls slegs nominasies toelaat van die vloer van die vergadering – enigeen wat voor die tyd openlik stemme werf, oortree die party se reëls.

Nietemin is daar sterk aanduidings dat meer as een nominasie per posisie vir verskeie van die topses-posisies verwag word.

Dit sal die eerste keer wees dat die party nie sy topses-afgevaardigdes onbestrede gaan verkies nie. Dit kan nuwe spanning in die EFF skep as die verloorders die uitslag in twyfel trek, die party saam met hul ondersteuners verlaat of ‘n verdelende drukgroep binne die party vorm, soos al in verskeie ander partye gebeur het.

Ten spyte van die verbod op amptelike nominasies voor die kongres, is daar tans baie bewerings oor moontlike nominasies wat die ronde doen. Dit lyk hoogs onwaarskynlik dat die partyleier, Julius Malema, of die onderleier, Floyd Shivambu, ernstig uitgedaag of ontsetel gaan word, hoewel verrassings natuurlik gebeur.

Godrich Gardee, die huidige sekretaris-generaal, kan na verneem word uit die kussings gelig word deur die skatryk EFF-LP Marshall Dlamini van Umzimkhulu in die suide van KwaZulu-Natal. Ook die nasionale voorsitter, adv. Dali Mpofu, kan in die slag bly, hoewel net die tyd sal leer.

Die party se tesourier-generaal, Leigh Ann Mathys, se gesondheid laat reeds geruime tyd veel te wense oor en sy kan dalk afstaan. Hlengiwe Mkhaliphi, adjunk sekretaris-generaal, speel die kaarte teen die bors oor wat haar planne is.

Verskeie belangrike beleidsbesluite moet ook geneem word en veral vier word versigtig dopgehou. Eerstens lyk dit of die EFF dalk kan wegbeweeg van sy beleid van onteiening sonder vergoeding op stedelike grond. Tweedens is dit baie moontlik dat die party nasionale gesondheidsversekering kan verwerp. Derdens wag daar ‘n groot stryery oor of die party die konsep van oorerfbare tradisionele leierskap gaan onderskryf of as feodaal verwerp. Laastens sal dit interessant wees om te sien of die EFF ‘n nasionaal bindende besluit neem oor watter partye om as koalisievennoot te neem in stadsrade waar niemand ‘n volstrekte meerderheid het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

André André ·

Julius het in die week gesê hy sal na enige plek toe gaan waarheen hulle hom stuur, stuur hom, as jul eeste ambassadeur, oorsee, ‘n tweede keuse sal ‘n sekuriteitswag by Eskom wees.

Gert ·

Jan jan Joubert se insette tov EFF “beluitsbesleite” is links positief en nie deel van werklikheid.

Sarel ·

Die media gee die umfaan met sy rooi hoedjie heeltemal te veel aandag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.