EFF-lede dreig om Bronkhorstspruit tot stilstand te ruk

EFF-lede wat buite die hof betoog het (Foto: ANA)

Lede van die EFF het Dinsdag buite die landdroshof in Bronkhorstspruit in Gauteng gedreig om die hele dorp tot stilstand te ruk nadat die hof die saak van die 45-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy sy ouers se huishulp verkrag en haar glo gedwing het om seksuele dade met sy hond te pleeg, na die Pretoria-streekshof oorgeplaas het.

Landdros David Shikwambana het Dinsdag Barbra Ndala, staatsaanklaer, se versoek goedgekeur om die man se saak na die Pretoria-streekshof oor te plaas en die verhoordatum uit te stel tot op 3 Mei.

Spanning by die hof was op ʼn mespunt nadat ʼn groep EFF-lede ná die uitspraak die hof binnegestorm het, Shikwambana omring het en aangedring het dat hy moet verduidelik waarom hy die oorplasing goedgekeur het.

Die polisie het ingegryp waarna Shikwambana te midde van ʼn groot polisieteenwoordigheid met die EFF-lede in gesprek getree het.

Sello Boleu, ʼn woordvoerder vir die EFF, het tydens dié 45 minuut lange gesprek aan Shikwambana gesê geregtigheid mag moontlik nie in die Pretoria-streekshof geskied nie aangesien die beskuldigde ʼn “wit Afrikaner” is.

“Daar is in die verlede ander hofsake vir geen rede nie teen Afrikaners teruggetrek of laat vaar nadat die sake na die streekshof oorgeplaas is,” het hy gesê. “As hierdie hofsaak oorgeplaas word na Pretoria toe, sal ons hierdie dorp tot stilstand ruk soos met Mahikeng. Ons wil hê hierdie hofsaak moet hier hanteer word totdat uitspraak gelewer word.”

Shikwambana het onderneem om die EFF-lede se versoek met sy bogeskiktes te bespreek.

Die man, wie se naam nie genoem mag word voordat hy gepleit het nie, aangesien hy teregstaan op aanklagte van ʼn seksuele aard, staan tereg op tien aanklagte insluitend verkragting, seksuele aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging. Hy is in November in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

Die voorval het na bewering op 23 Oktober verlede jaar in ʼn kamer in sy ouerhuis in Riamarpark in Bronkhorstspruit gebeur.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gert ·

Wanneer kom floyd shiwambo se saak voor vir die aanranding op die fotograaf ons wil die hof gaan intemedeer om hom nie borg toe te staan nie vir sy eie veiligheid natuurlik.

Jan ·

Die reg en wette wat veronderstel is om landsburgers te beskerm word vir politieke gewin gemanupileer. Die EFF dink hulle regeer die land. Regtig kommerwekkend wat gebeur.

$ ·

Van wanneer af moet landdroste/regters aan politieke partye verantwoording doen oor hul besluite? Waarom word dit enigsins toegelaat dat die landdros die EFF te woord staan – nogal 45 minute lank! Wat het ek gemis, is dit nou toelaatbaar? Die polisie moes die landdros beskerm en na veiligheid begelei het; nie staan en toekyk terwyl die landdros hul ´n spreekbeurt toestaan nie? Hoe objektief gaan hierdie saak nou hanteer word? Ai, soveel dinge het ons al bekommerd in hierdie land en hierdie wending mbt ons regstelsel voeg nou net nóg kole by die vuur (sug)

Gerrit ·

Kom ek stel dit dan so sal so iets ooit in n eerstewereld land gebeur ??????

Linda ·

Die saak is uitgestel tot 3 Mei….The Bronkhorstspruit Magistrate’s Court also heard on Tuesday that the case would now be transferred to the Pretoria Regional Court.

Hanna ·

En so swaai die stert die hond: EFF is duidelik in beheer van Suid-Afrika. Dis nou so duidelik soos daglig.

Reguit ·

In die berig hierbo erken die EFF ruiterlik dat húlle verantwoordelik is vir die chaos en plundering van Mahikeng. En die Staat laat dit gaan as of dit “niks” is nie. Nêrens word die EFF tot verantwoording geroep of aangekla oor enige van hulle uitsprake of erkennings nie, al erken die EFF ook dat hulle direk verantwoordelik is vir opsweping, onwettige uitsprake, onwettige optredes en opstande wat met geweld, brandstigting en plundering gepaard gaan. Oo ja… nou onthou ek: Die EFF is die koverte militante vleuel van die ANC. Daarom is hulle bó die wet. En Afriforum gaan hulle stop……..

nieBAFUnie ·

Is die derde grootste party en maar regeer reeds deur middel van alle moontlike onaanvaarbare optredes.

Cornelius du Rand ·

Dankie FW se Klerk, Theuns Eloff en Kie
Julle wigte en teenwigte werk fantasties.

Zumie ·

Lees mooi…
Intimedasie van voorsittende beamptes…
Hoe kan ons vorentoe objektiewe regspleging verwag?

Lee ·

Ai weet jy. Duidelik werk hulle nie en wil net aanjaag elke dag. Breek maar SA af want so sien die beleggers in SA dit ook.

Beatrix ·

Regtig …. niks met ” Wit Afrikaner” te doen nie. Dit is ‘n uiterse siek krimineel! Om geboue af te brand, mense te intimideer is ook krimineel EFF!!!

Casper Labuschagne ·

Die beskuldigde se naam mag nie genoem word nie, maar sy naam asook sy foto in die hof is reeds wyd in in die media gepubliseer. En nadat hy in November gearresteer was is hy nou al vyf maande in aanhouding en kon nog nie pleit nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.