EFF-lede dreig om pad voor SAUK te versper

Duisende EFF-lede hou 'n optog na die SAUK se hoofkantoor in Johannesburg. Foto @econfreedomza / Twitter

Duisende EFF-lede hou ‘n optog na die SAUK se hoofkantoor in Johannesburg. Foto @econfreedomza / Twitter

Lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Dinsdag gedreig om die pad voor die SAUK in Aucklandpark in Johannesburg te versper, totdat die openbare uitsaaier instem om sy verkiesingsadvertensie uit te saai.

Duisende lede van die party het Dinsdagoggend hul optog in Parktown begin, waarna hulle na Empireweg beweeg het en albei bane van dié besige pad beset het. Dit het tot groot verkeersopeenhopings gelei. Vyf polisievoertuie het voor die groep betogers gery.

Julius Malema, die party se leier, het die optog gelei. Malema moes in ʼn stadium sy volgelinge stop en vra om geduldig te wees, nadat hulle teen mekaar begin stamp het en beamptes hulle nie onder beheer kon hou nie. “Dit help nie om mekaar te stamp en te druk nie. Ons moet nie hardloop nie. Ons moet ons tyd neem en nie mekaar stamp nie,” het hy gesê. Die optog het daarna Stanleyweg bereik en die betogers het uiteindelik tot by die SAUK se hoofkantoor gevorder waar ʼn memorandum oorhandig is.

Die optog volg nadat die SAUK die EFF se eerste verkiesingsadvertensie verwerp het.

Die SAUK voer aan die advertensie hits geweld aan. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) het Saterdag ten gunste van die SAUK beslis om nie die EFF se verkiesingsadvertensie uit te saai nie. Okosa se klagtes- en nakomingskomitee het bevind dat die advertensie moontlik beskou kan word dat dit onwettige dade, soos om e-tolhekke te vernietig, goedkeur of ondersteun.

Wiekus Kotze, ʼn Afrikaanse man wat bekendheid verwerf het toe hy by Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF)-party aangesluit het, het Dinsdag aan JacarandaFM gesê hy en verskeie lede gaan voor die SAUK se kantore uitkamp totdat die party se advertensie uitgesaai word.

Die polisie en metropolisie hou die situasie dop. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.