EFF-lede op die rooi tapyt in parlement

Die EFF-LP’s word nou voor stok gekry vir hul ontwrigting van die minister se begrotingsrede.

Die wiel van parlementêre geregtigheid draai stadig maar seker vir die EFF-parlementslede wat min. Pravin Gordhan se begrotingstoespraak verlede jaar ontwrig het.

Die 16 LP’s op die rooi tapyt is meestal redelik onbekende agterbankers en hoef na regte nie hier gelys te word nie, maar minstens drie van hulle beweeg wel redelik bo die parlementêre radar. Hulle is naamlik Nazier Paulsen van Bellville, ʼn skopbokser en wapenentoesias wat die party se woordvoerder oor omgewingsake is, Primrose Sonti van Rustenburg, wat bekend is vir haar pers haredos asook alombekend as die “Marikana-weduwee” omdat haar man by die Marikana-myn deur die polisie doodgeskiet is, en Sam Matiase van Durban, wat die ontwrigting van Gordhan op daardie dag in Julie verlede jaar aangevoor het.

Op daardie dag het die EFF-lede ter sprake soos ʼn falanks opgestaan uit hul parlementêre gestoeltes en stadig dog dreigend afgestap op Gordhan, vir wie hulle verafsku, terwyl hulle uitgeroep het dat hy nie toegelaat sou word om sy begrotingsrede as minister van openbare ondernemings te lewer nie.

Lede van die DA en ANC het Gordhan teen die EFF beskerm en die EFF-lede is hardhandig uit die lokaal verwyder.

Daarna het Gordhan wel sy begrotingsrede gelewer.

Nou het dié EFF-LP’s se gedrag hulle ingehaal en hulle moet verskyn voor die staande komitee oor regte en voorregte in die parlement. As die komitee (waarin die EFF net een verteenwoordiger uit 11 komiteelede het) besluit die EFF-LP’s is skuldig, kan dit omvattende geldelike gevolge vir die manne en vroue in rooi inhou.

Ironies genoeg vind die “verhoor” plaas in die presiese lokaal – kamer E249 van die parlementêre kompleks – waar Gordhan deur die EFF ontwrig is.

ʼn Aanduiding van hoe ernstig die EFF die aangeleentheid opneem, is dat hulle die LP wat miskien die skerpste potlood in hul pak is, naamlik dr. Mbuyiseni Ndlozi, as hul segsman in die komitee ontplooi het. Ndlozi is nie een van die 16 aangeklaagdes nie.

En ʼn aanduiding van hoe ernstig die ANC en die DA die komitee opneem, is dat die ANC die bekwame LP Philly Mapulane as voorsitter ontplooi het met die voormalige Noord-Kaapse premier Dipuo Peters as hoofaanvaller, terwyl die DA onder meer sy parlementêre koukusvoorsitter, dr. Annelie Lotriet, as komiteelid het.

Peters se vuil kyke in Ndlozi se rigting elke keer dat hy begin praat het, het niks goeds vir die EFF voorspel nie.

Op Dinsdag se vergadering van die komitee was Ndlozi trouens op sy stukke. Hy het diep seergemaak voorgekom oor die punt (toegegee deur Mapulane) dat die EFF nie toegang tot alle dokumente verkry het nie en was passievol oor die punt (en hieroor het Mapulane uit die voorsitterstoel met hom verskil) dat elke EFF-lid die reg op regsverteenwoordiging het.

Woensdag is in beslag geneem deur pogings van ʼn EFF-regsverteenwoordiger om die party se saak in verband met ʼn paar tegniese punte te stel, maar die wa is aan die rol om die LP’s vas te vat, al kan dit moontlik geruime tyd duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
J

Die Parlement probeer om GEDUGTE EFF MISDADIGERS d.m.v. ‘kinderspeletjies’ te dissiplineer?

Daai rooi barette is skuldig aan sedisie (verraad), sabotasie, teistering en karaktermoord wat d.m.v. kriminele vervolging hanteer moet word.

Niemand het tot dusver kriminele klagtes gaan indien teen die EFF nie, oor daardie insident.

Persheks Adri

Hierdie party MOET ontbind word so gou as moontlik en toe gesluit word vir al hulle wangedrag, aanhitsing van geweld en haat spraak ons is moeg verby vir hulle om dit sagkens te stel pffft

Adam Adriaan

Dit is nie ‘n politieke party nie maar ‘n terroriste organisasie soos ISIS

Dup

Die politici se regslui maak geld soos bossies en lag al die pad bank toe.Die vraag is:waar kry die politici die fondse om die regslui se lywige rekeninge te betaal……?

Stefan

Daar is nie ‘n skerp potloot in hul pak nie!