EFF-lid in Vosloorus doodgeskiet

red-beret-eff-malemaʼn Lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is glo by sy huis in Vosloorus aan die Oos-Rand doodgeskiet, het die Sunday Independent berig.

Thapelo Lekana (28) is glo Vrydagoggend om 05:00 buite die hek van sy huis doodgeskiet. Brigadier Neville Malila, woordvoerder van die polisie, het aan Sapa gesê ʼn man is dood, maar hy kon nie bevestig of die man ʼn lid van ʼn spesifieke politieke party is nie. “Hy is deur ʼn onbekende persoon geskiet. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Malila gesê.

Mgini Tshwaku, sameroeper van die EFF in Gauteng, het glo aan die koerant gesê Lekana was na ʼn vergadering op pad huis toe, toe hy aangeval is. Tshwaku het gesê sy selfoon is gesteel, maar Malila kon dit nie bevestig nie.

Malila het Sondag aan Sapa gesê Alexandra is stil ná betogings Vrydag in dié informele nedersetting. Maroela Media het vroeër berig inwoners het glo geëis dat persone, wat Donderdagaand vir openbare geweld in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word. Die polisie is ontbied en het betogers met rubberkoeëls en skokgranate verdryf. Nog mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Ondersteuners van die Inkatha Vryheidsparty het Woensdagaand glo lede van die ANC in Gauteng gyselaar gehou nadat hulle na bewering stembriewe in ʼn ANC-motor gesien het. Die polisie ontken daar was ʼn “gyselaarsituasie”.

ʼn Kantoor van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is Donderdagaand aan die brand gesteek. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.