EFF maak reusebeloftes voor plaaslike verkiesing

Julius Malema, leier van die EFF, tydens die bekendstelling van die party se verkiesingsmanifes. (Foto: EFF/Twitter)

Die EFF het in sy verkiesingsmanifes sewe “ononderhandelbare” kwessies bekend gestel waarop sy programme vir sogenaamde algehele emansipasie en ekonomiese vryheid berus.

Julius Malema, leier van die rooi barette, het Sondag gesê dié kwessies sluit in onteiening sonder vergoeding vir die gelyke herverdeling van gebruik, die nasionalisering van myne, banke en ander strategiese sektore van die ekonomie – ook sonder vergoeding – asook die bou van ʼn staat en regeringskapasiteit wat sal lei tot die wegdoen van die tenderstelsel.

Malema het ook gratis onderwys, gesondheidsorg, huise en sanitasie beloof.

Die aanvoerder van die EFF sê in munisipaliteite waar dié party regeer, sal daar nie hande gevou word oor sanitasie en toiletgeriewe by skole nie en dat daar nooit puttoilette by skole wat onder EFF-munisipaliteite val, sal wees nie.

Malema sê ten spyte van die feit dat die EFF nêrens regeer nie, het hy steeds baie bereik in die munisipaliteite waar hy verteenwoordiging het. Volgens die party sluit dit in die heraanstelling van honderde verpleegsters wie se kontrakte in Mei vanjaar in die Oos-Kaap verstryk het, ʼn mosie in die Buffalo City-metro wat gelei het tot die afhandeling van die Amalinda‑behuisingskoöperatief, sowel as die afskryf van munisipale skuld van arm huishoudings in die Matatiele-munisipaliteit.

“Elke EFF-munisipaliteit sal ʼn grondoudit van sy munisipale gebiede doen om die ware eienaarskap en besonderhede oor elke stuk grond in die munisipaliteit te bepaal, vas te stel waarvoor die grond gebruik word, en verlate en ongebruikte grond onteien vir herverdeling aan die grondloses,” het Malema tydens die bekendstelling van die manifes beloof.

Volgens hom gaan die EFF ook informele nedersettings in gebiede waar hy regeer, formaliseer en verseker dat dié gebiede behoorlike dienste ontvang, asook gesoneer word.

Nog beloftes sluit in die vestiging van ʼn abattoir wat aan die munisipaliteit behoort wat produkte van hoofsaaklik swart boere sal kry, terwyl die EFF ook beloof dat elke munisipaliteit onder EFF-beheer ʼn varsproduktemark sal hê waar kleinboere hul produkte kan verkoop. Volgens Malema moet 50% hiervan in die besit van vroue en jong mense wees.

Malema het voorts herwinningsaanlegte teen 2023 by elke EFF-munisipaliteit beloof, die beskikbaarstelling van grond vir studenteverblyf, die aankoop van trekkers en die verskaffing van saad vir gebruik deur arm huishoudings en die “terugneem van alle gesteelde munisipale grond”.

Die EFF beloof voorts gratis basiese dienste vir almal wat maatskaplike toelae ontvang, die bou van skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, verkragting en kindermishandeling, klinieke wat 24 uur van die dag en sewe dae per week bedryf word, die herstel van alle wateraanlegte en die verskaffing van warm, lopende water in elke huis in Suid-Afrika.

“EFF-munisipaliteite sal enige onwettige versperring of verlegging van die vloei van natuurlike riviere deur wit boere verwyder,” sê Malema.

Die party beloof ook om weg te doen met die emmerstelsel, gaan ingange na dorpe skoonmaak en beloof om 50% van tenders by munisipaliteite waar hy regeer aan jong mense toe te ken.

“Die EFF is ʼn organisasie wat vir ewig sal leef en dit is hoekom alles wat ons doen gemik is op die toekoms,” het Malema by die bekendstelling van die manifes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Beloftes is soos om ‘n wind te laat val. Hy is hier, hy stink soe rukkie en dan is hy weg tot die volgende belofte. Verbaas hy het nie gese hulle gaan al die diere uit die Kruger jaag en daar RDP huise opsit. Het die EFF al hulle laaste beloftes vervul?

Chris dupreez

En jy gaan persone kry wat vir hulle stem. Hoe naief kan iemand wees ?

Aai

Beloftes soos die ANC net 7 keer meer opgeblaas.Ek lag lekker maar daar te veel mense in SA wat sal stem vir die want hulle weet nie beter.

Willem

Die skelm anc kan nie eers sulke klomp kak belowe en lewer nie.Waar kom julias aan al sy kakpraatjies?Ek hoop en bid die eff val sommer heeltemal uit die bus met die verkiesings!!!!!!

Andre

Ek lag elke keer lekker is die swaap sy mond oop maak, ongelukkig is “ons mense” nie slim genoeg om te besef dit is alles lieg stories nie en hulle sal weer vir hom stem.