EFF, Malema moet opdok, sê hof

Julius Malema tydens ‘n perskonferensie op 13 Oktober 2016 (Skermskoot uit EWN-video van die konferensie)

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis die EFF en sy leier, Julius Malema, moet aanspreeklik gehou word vir die regskostes van ʼn hofaansoek om ʼn interdik te bekom wat die party en Malema verbied om die publiek aan te hits om onwettig grond te gryp of te betree.

AfriSake en AfriForum het in Maart 2017 daarin geslaag om dié interim interdik te bekom. Die interdik is egter uitgestel nadat die EFF en Malema ʼn aansoek gebring het om die interdik ter syde te laat stel.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het in ʼn verklaring gesê die EFF en Malema het probeer om vertragingstaktieke te gebruik deur hul hoofde van betoog laat te liasseer, maar die regter was nie tevrede met die redes vir die vertragings nie en het ’n kostebevel ten gunste van AfriSake en AfriForum gemaak. Die saak is gevolglik uitgestel en sal vir die volgende beskikbare hofdatum op die rol geplaas word.

“Die EFF en Malema het geweet hulle is in die moeilikheid en het geen regverdigbare verweer gehad oor waarom ons aansoek tersyde gestel moet word nie. Hul pogings was niks meer as ’n vertragingstaktiek nie en ons is tevrede dat die hof daardeur gesien het,” het Greyling gesê.

Hein Gonzales, AfriForum se bestuurder van risiko- en ondersteuningsdienste, het gesê die organisasies sal poog om so gou as moontlik ’n nuwe hofdatum te bekom sodat die saak aangehoor kan word. “Ons moet die interdik teen Malema en die EFF, insluitend sy lede, finaliseer sodat hulle verbied word om die publiek aan te hits en mense aan te por om grond onwettig te gryp en te betree,” het Gonzales gesê.

“Sou hulle nie aan die bepalings van die interdik voldoen nie, sal AfriSake en AfriForum prosedure vir minagting van die hofbevel instel wat tot ’n boete of gevangenisstraf of albei vir die politieke leier of lede van sy party kan lei.”

Greyling het gesê die EFF het probeer om die saak buite die hof uit te stel, maar AfriSake en AfriForum is nie bereid om in te stem tot enige uitstel nie, aangesien hulle meen die EFF en sy leier het meer as genoeg tyd gehad om vir die verhoor voor te berei.

“Dit sou nie in die belang van geregtigheid, of regverdigbaar, wees om tot dié uitstel in te stem nie, aangesien die EFF en Malema aanhou om mense op te roep om grond te gryp en te betree. Hoewel die finale geveg nog nie gewen is nie, is ons vol vertroue dat ons ons huiswerk deeglik gedoen het en dat die finale interdik teen die EFF en Malema toegestaan sal word,” het hy gesê.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, het gesê die organisasie is trots daarop om vir geregtigheid en die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika te kan veg. “Malema en die EFF sê dat hulle ekonomiese vryheid wil hê, maar hulle optrede sal slegs armoede en wetteloosheid tot gevolg hê. Met elke insident van aanhitsing en die leidende rol wat hulle in onwettige grondgrype speel, ondermyn hulle die vooruitsig van ekonomiese vooruitgang vir die samelewing in die geheel. AfriSake en sy vennote het reeds en sal aanhou om in hul pad te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Basjan ·

AfriSake en AfriForum, ry hulle tot by oom Daantjie in die kalwerhok!

madels ·

Stem saam! Laat hulle vir hulle kry! Genoeg is genoeg! Ek is trots of julle AfriSake en AfriForum!!

Daan Erasmus ·

Dit is fantasties dat die bevel toegestaan is. Vir reg en geregtigheid moes daar ‘n koste straf bevel gewees het. Wie ore het om te hoor, laat hulle hoor. Wie nie ore het nie moet betaal.

piper ·

my maandelikse bydrae aan afriforum bly n goeie belegging. meer mense moet aansluit.

Isabel ·

Moenie ons geagte president vergeet nie. Hy smeek die ANC jeugliga om dit te doen en gebruik onder andere die woord “militant”.

Lukie Carelsen ·

Dis wonderlikike nuus. DIe ANC en sy bongenote soos die kleuter organisasie EFF is besig om te verkrummel. Gee hulle net genoeg tou en hulle hang hulle self op! Die einde vd ANC is in sig!

Coen Hattingh ·

Ek is verheug oor Afriforum en Afrisake se standvastige vasberadenheid om na ons minderheidsgroepies om te sien. Mooi so. As ons pensioenarisse(Transnet Pensioenarisse Aksie Groep) ons Hofsaak teen Transnet wèn onderneem ek om ‘n stywe bedrag uit dankbaarheid aan TPAG sowel as Afriforum skenk. Hou duim vas en bid saam met ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.