EFF: ‘Ons weet dat Guptas op Malema spioeneer’

Julius Malema. Foto: EFF, Facebook

Die EFF het Sondag gesê die party “is al ʼn geruime tyd bewus daarvan” dat die Gupta-familie op die partyleier, Julius Malema, spioeneer en is bekommerd oor Malema se veiligheid.

Die EFF het gesê mediaberigte dat die Gupta-familie op Malema spioeneer, is waar en die gelekte sogenaamde “Gupta-e-posse” dien nou as ʼn bewys hiervan.

Sunday Times en ander mediagroepe het die afgelope naweek onthul dat die Gupta-e-posse na bewering toon dat die familie op verskeie hooggeplaastes soos Maria Ramos, uitvoerende hoof van Absa, GT Ferreira, Paul Harris en Laurie Dippenaar van Rand Merchant Bank, asook Stephen Koseff, uitvoerende hoof van Investec, spioeneer. Daar word ook beweer Malema en Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, se bewegings word dopgehou.

Mbuyiseni Quintin Ndlozi, nasionale woordvoerder van die EFF, het in ʼn verklaring gesê die party weet na bewering dat die Gupta-familie toegang tot Malema se reisbesonderhede en ID-nommer het. “Ons kan aan geen ander rede dink hoekom hulle op hom sal wil spioeneer nie, buiten in die hoop om hom op sy eie te vind en sy lewe te neem,” het Ndlozi gesê.

“Ons sê so omdat die meeste reise waaroor die media berig het, nie in die openbaar aangekondig is nie. Ons weet ook dat hulle onwettig sy oproepe monitor en dit al vir ʼn geruime tyd doen.” Ndlozi het verder beweer die Gupta-familie besit spioenasietoerusting uit Rusland wat hulle na bewering onwettig in die land gebring het. “Dit is nog onomstootlike bewyse hoekom hulle hul tasse moet pak en ons land verlaat.”

Ndlozi het gesê die party is bekommerd oor Malema se veiligheid en moes onlangs ondersoek instel nadat ʼn motor hom agtervolg het. Die party sal die bewyse in die Gupta-e-posse aan die inspekteur-generaal van intelligensie gee om verder te ondersoek. “Ons wil die Guptas waarsku, ons gaan nie stilsit en net toelaat dat hulle mag oor ons leier se lewe het nie. Hulle het geen reg om op die EFF-leierskap te spioeneer nie en hulle moet weet die EFF is nie bang vir hulle nie,” het Ndlozi gesê.

“Indien die owerhede nie beslissend optree nie, laat dit ons met geen ander keuse as om onsself te verdedig op enige moontlike revolusionêre manier nie.”

Die Gupta-familie het vroeër die e-posse as fopnuus afgemaak, terwyl die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) reeds gesê het die e-posse “lyk eg”. Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Mei ’n skriftelike versoek aan Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), gerig om dringend die geloofwaardigheid van die beweerde e-posse te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leanbear ·

Sw . Jy’ reg ! Hier kom n ding . Ken die verskil tussen vye . . . . .

Piet Pille ·

Leanbear, vye of turksvye, maar dorings gaan daar beslis wees wat iemand gaan steek.

Anton ·

…maklik om nou te se dat hul weet dat Guptas op hom, Malema, spioeneer…as hul geweet het het hul dit lankal aan die grootklok gehang…

"Eksê" ·

Hier kom ‘n DING/DENG Kea le jwetsa! “Go tla nkga go sa bola” Laat die vuur asb tog uitwoed!

Hendrik ·

Die vlak van politiek en politieke gesprek is so laag dat ek partykeer wonder hoe gewone burgers nog kan belangstel in politiek. Die grootste groepering in die land wat nie gaan stem nie is al reeds oor die 10 mljoen. Wat sal die oplossing wees vir die toekoms? Plan B?

SARIE VAN HEERDEN ·

Wat wou hul met spioenasie op Malema openbaar maak? Malema se net wat hy wil en al sou hul hom aanhark oor iets sal dit nie aan hom saakmaak nie want steeds is dit een ding wat hy soek: publisiteit. Ek glo dat met Malema is dit: What you see is what you get. As EK kwytraak wat hy se het hul my lankal diep gebere. Een ding is seker: as Malema klaar is met dit waarmee hy nou besig is gaan hy sy visier instel op ons wetsgehoorsame burgers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.