EFF-optog straffeloos onder leiding van die polisie

Die EFF-optog in Phoenix (5 Augustus 2021) (Foto: @EFFSouthAfrica/Twitter)

Terwyl die huidige afsonderingsregulasies bepaal dat slegs 100 mense in die buitelug mag vergader, het sowat 1 500 mense Donderdag deelgeneem aan ʼn EFF-optog vanaf Gandhipark na die polisiekantoor in Phoenix in KwaZulu-Natal terwyl die polisie hulle boonop begelei het.

Maroela Media het vroeër berig die EFF in die eThekwini-streek het Donderdag opgeruk na Phoenix, met sy oorwegend Indiërbevolking, in protes teen wat die party bestempel as die “rassemoorde op swart mense”.

Minstens 36 mense is dood in ʼn vlaag moorde wat gepleeg is tydens verlede maand se oproer en plundering in die gebied. Die minister van polisie, Bheki Cele, het Dinsdag gesê die voorvalle van geweld in Phoenix was die episentrum van “grusame misdaad en rassistiese voorvalle wat gelei het tot wrede moorde en beserings, gruwelike skade aan eiendom en ongekende pyn en trauma”. Inwoners het in reaksie op die grootskaalse plundering oënskynlik self probeer om hul gemeenskappe te beskerm, padblokkades opgestel en buurte gepatrolleer. Die situasie het egter in chaos ontaard en die padblokkades het volgens die minister verander in plekke van boendoegeregtigheid waar mense op grond van hul velkleur gekeer is om die buurt binne te gaan.

“Ons vra vir die onmiddellike inhegtenisneming van al daardie rassistiese moordenaars en die beslaglegging van alle onwettige vuurwapens,” lui die EFF se oproep.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het intussen gesê dit is onaanvaarbaar dat die polisie nie ’n vinger verroer terwyl inperkingsmaatreëls onder leiding van die polisie verontagsaam word nie. “Dit is hierdie soort optrede waar mense sien dat hulle straffeloos kan wegkom met die oortreding van regulasies wat wetteloosheid aanstig.”

Die VF Plus sal hierdie saak opvolg in die parlement en die polisieminister sal moet verduidelik waarom mense in sommige gevalle nie in hegtenis geneem word nie terwyl daar in ander gevalle wel opgetree word.

“Die polisie se uitsprake dat wet en orde behoorlik toegepas sal word, veral ná die grootskaalse geweldpleging etlike weke gelede, is duidelik net lippetaal. Vandag se gebeure maak dit duidelik dat die polisie magteloos is en eerder met die massas saamwerk om die wet te oortree,” het Groenewald bygevoeg.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, het gesê die Demokratiese Alliansie doen ook ʼn beroep op die polisie om op te tree teen die EFF ná hulle verskeie afsonderingsregulasies oortree het.

“Foto’s en video’s van die EFF se optog van eThekwini na Phoenix wys duidelik hoe betogers sonder maskers rondloop en in ʼn skare bymekaarkom sonder enige sosiale distansiëring. Dit is interessant dat die EFF beweer dat hulle betoog teen lewensverlies tydens die onluste en plundery in KwaZulu-Natal byna ʼn maand gelede, maar tog gee hulle so min om vir die lewens en veiligheid van hul ondersteuners te midde van die dodelike Covid-19-pandemie,” het Whitfield bygevoeg.

“Terwyl gewone burgers die volle mag van die SAPD sou ervaar en vervolg sou word vir kleiner oortredings, word die EFF toegelaat om te doen wat hulle wil. Hulle stel mense se lewens in gevaar deur moontlike superverspreider-byeenkomste te hou en dreig met die geweld, vandalisme en intimidasie wat sinoniem geraak het met EFF-betogings.”

Whitfield meen die SAPD het ander reëls wanneer dit kom by die EFF. “Die SAPD versuim deurgaans om teen die EFF op te tree wanneer hulle wette oortree. Dit is tyd dat die SAPD besef hulle is nie die EFF se privaat sekuriteit nie – hulle mandaat is die veiligheid en sekuriteit van gewone Suid-Afrikaners wat gereeld deur die EFF gedreig en geïntimideer word en wie se ondernemings gereeld geteiken word deur hulle geweld en vandalisme. Dit kan nie so wees dat ʼn party wat slegs geweld aanhits en hulself aan haatspraak skuldig maak, beskerm word terwyl hulle openlik wette en regulasies oortree nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Toemaar , Andre Gaum se reaksie gaan wees: “Dis nogal problematies” en dan gaan hulle absoluut NIKS doen aan die EFF nie. Inteendeel, hy sal die polsiie kritiseer indien hulle sou optree.

Jr ·

Een van hulle n vrou spuit voor EWN kameras hoe hulle nie rassisme kan toelaat en hoe dit onaanvaarbaar is en en en. Maar al wat uit hierdie coke bottels kom is die wittes dit en die indiers dat. Rassisme is al wat uit hierdie leë bottels kom. Moenie maak soos ons maak, maak soos ons sê. Sirkus has come to Phoenix.

Cherokee ·

re… Die VF Plus sal hierdie saak opvolg in die parlement en cele sal moet verduidelik.
Pieter, ons maak staat daarop dat dit wel opgeneem sal word in die parlement, en nie slegs met ‘n terloopse vraag wat onbeantwoord bly nie. ‘n Antwoord moet geëis word waarom die polisie so vrekbang is vir die eff. Daar behoort aan ramaphosa gevra te word waarom hyself dit nie opvolg nie.
Die groot krokodil sou die weermag gebruik het om hulle uitmekaar te jaag.

Mariana ·

Wat kan ons meer sê. Dit is reeds gesê in die berig. Nou gaan daar weereens niks gebeur met Malema en sy hordes nie.

Stephen ·

Wat verwag mens van Beki Cele, die president en die res van die koruptes, die twee gesigte? Dis maklik om enkele mense op n strand te arresteer, branderplank ryers, ouers wat laat in die aand kos soek vir hulle kinders, mense wat sonder n masker loop. Maar 1500 mense en baie van hulle sonder maskers is ok. Dis toelaatbaar…. As hulle anderskeurig was, was die weermag betrokke om hulle aan te keer…..

Francois ·

Dit is Cele se favourite mense so hy sal niks foen. Die EFF praat oor vuurwapens, hoekom vra hulle nie ook na n ondersoek na al die taxi drywers se ongelisensieerde wapens?

Natasha ·

“Ons vra vir die onmiddellike inhegtenisneming van al daardie rassistiese moordenaars en die beslaglegging van alle onwettige vuurwapens,” …so kan ons asb elke EFF lid inhegtenisneem? Voortaan moet geen restaurant of drankverkoper meer luister en doen wat CR se totdat hy optree teen die EFF nie!

Deon ·

Kan ek as n burger n klag gaan le teen die organiseerders van hierdie super verspreider byeenkoms wat n episentrum gaan veroorsaak….

Johannes ·

Het jy baie tyd want hulle gaan jou dalk toesluit want hulle gaan jou beskuldig van rassisme

annie ·

Nie veel meer as ‘n skoolgroep op ‘n uitstappie nie. Die spul beskou nie hul werk as prioriteit nie met die baie afwesige dae. Wonder wat sê hulle vir die base waar was hulle vandag.

Karpraat ·

As hulle so ongestoord kan rondloop in groot getalle waarom dan die verkiesing wil uitstel?

Frank ·

Mense, die situasie in ons land begin nou vinnig en eksponensieel na ‘n kant toe te beweeg….
Die regering het baie duidelik begin standpunt inneem teen alle nie-swartmense. Hulle probeer dit nie meer effens verbloem nie. Vinnig oppad nou na ‘n breekpunt toe

Jedi Knight ·

Net so terloops aan alle mense. As jy n T-hemp wil dra, maak seker jou maag is so plat soos n strykplank. Anders moet jy eerder n toeknoop kraaghemp dra.

SomeOne ·

watter wêreld deel begelei die polisie betogers ????? sekerlik net in hierdie mal land

TO ·

Nou ja wat sal ons sê, weereens bewys soveel verskillende stelle reëls. ‘n man wat vir sy baba melk gaan loop, let wel al die reëls word na gekom, behalwe dat hy in curvue buite is, ‘n surfer word gearresteer, maar die cronies loop in julle duisende rond, sonder maskers. Maar hoe sê die kerke, behandel hulle met handskoentjies, hulle is onaantasbaar. Patetiese regering met meer patetiese polisie. Dan word daar gekla covid vermeerder, wat ‘n grap

Pieter ·

Dit is duidelik dat die minister van Polisie die EFF ondersteun, en hulle toelaat om alle reëls te oortree, soos en wanneer dit hulle pas. Die SAP begelei tot die oortreders, met ander woorde, die EFF oortree met goedkeuring van die SAPD. CELE MUST FALL!!!

Genis ·

SAPD is pateties verby… Korrup onder die leiding van die Hoed wanna-be

Jack ·

Die terroriste groep word net groter terwyl geweld moord en die roof van aanvalswapens net toeneem. As die staat nie keer nie is die adder besig om hulle te omsingel en almal in te sluk. Slaap rustig my kaders julle sal die land vernietig.

pdbpta ·

Oppas vir ñ bul van vóór, ñ perd van agter, en ń IDIOOT vanuit enige rigting!!

Belinda ·

Wel ek hoop die gesegde van die wat nie hoor nie moet voel kom waar… kom ons kyk of die nommers van infeksies gaan optel in KZN… hordes was saam protes sonder social distance. Hulle dink hulle is untouchable van alles. Staan saam, ek gee nie om nie.

Kokerboom ·

Dubbele standaarde gaan voort!Sal die regte bevoegde President ASB opstaan?!!!

Misky ·

Na diè gebeure kan die verkiesing mos voortgaan. En dit was glad nie so vreedsaam nie. Besighede en geboue is met klippe bestook en motors beskadig in sekere dele van Phoenix

Nico ·

Dit het tyd geword dat Becki Cele die trekpas moet kry, solank hy die minister is van polisie is sal daar niks gebeur met opstokers nie. Sluit Malema ook op.

Ria ·

Maar laat een enkele derduiwel nou net sonder n masker loop. Dan het hy moeilikheid. Die EFF skrik niemand nie, want niks gebeur met hulle nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.