EFF ruk op na Gauteng-wetgewer oor rooi oorpakke

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: EFF / Facebook

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: EFF / Facebook

Daar is ʼn sterk polisieteenwoordigheid by die Gautengse wetgewer in Johannesburg se middestad nadat ʼn groot groep ondersteuners van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) daarheen opgeruk het.

Die lede betoog nadat sewe van die party se lede op 1 Julie uit die provinsiale wetgewer verwyder is omdat hul kleredrag nie toepaslik was nie. Ntobie Mekgwe, die speaker, het glo opdrag gegee dat die LPW’s die raadsaal moet verlaat en het gesê die EFF se rooi oorpakke is onvanpas, aangesien die woord “Asijiki” (ons sal nie terugtrek nie) op die rugkant verskyn, en sy dit as ʼn party-kenteken beskou.

Met hul aankoms Dinsdag by die wetgewer, het hulle deur ‘n menslike ketting van polisiebeamptes gedruk om toegang tot die gebou te verkry.

Die polisie het die deur gesluit en die res van die betogers verhinder om die gebou binne te gaan. Die res van die betogers het buite die wetgewer saamgedrom en struggle-liedjies gesing.

Diegene wat toegang gekry het, is intussen verwyder. Net Julius Malema, die EFF se leier, en die party se provinsiale leiers is toegang tot die vergadering gegee.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

monika ·

dit is al oefening wat ou Julius kry. Hy dink hy kan alles reg maak met amok.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.