EFF se gedrag in die parlement wyd veroordeel

EFF-LP’s (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, het haar teleurstelling uitgespreek en die optrede van EFF-LP’s vandeesweek in die parlement skerp veroordeel.

Maroela Media het vroeër berig LP’s van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is Donderdagmiddag met geweld uit die parlement verwyder nadat hulle probeer het om die begrotingsrede van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, te ontwrig.

Die EFF-LP’s het uit hul sitplekke opgestaan en ’n dreigende laer om Gordhan gevorm nadat hulle gesê het hy sal nie toegelaat word om sy begrotingsrede te lewer nie.

Dit is die eerste keer dat so iets in die Suid-Afrikaanse parlement gebeur. Lede van die ANC, die DA en die ACDP het ook opgestaan om Gordhan teen enige moontlike geweld te beskerm. Die voorsittende beampte, Grace Boroto van die ANC, het die parlementêre beskermingsdienste ingeroep, wat die lede van die EFF hardhandig verwyder het.

Modise het gesê dié onbehoorlike gedrag is duidelik ʼn oortreding van die reëls van die Huis. “Hierdie tipe onbehoorlike gedrag het geen plek in die parlement nie, omdat dit die dekorum van sake in die parlement ondermyn en die respek en vertroue, wat Suid-Afrikaners in die instansie het, afbreek. Die parlement moet baie duidelik toon dat hy sulke gedrag nie sal duld nie, deur behoorlike prosesse.”

ʼn Volledige verslag sal aan die voorsittende beampte voorgelê word sodat behoorlike optrede teen die LP’s bepaal kan word.

Pemmy Majodina, hoofsweep van die ANC, het Vrydag ook die LP’s se gedrag veroordeel. “Dit is ʼn belediging vir Suid-Afrikaners wat lede van die parlement vertrou met die yslike taak om wette te maak wat ons soewereine republiek regeer, en die groot verantwoordelikheid van parlementêre oorsig.”

Sy het gesê die EFF se optrede wys dat die party geen respek het vir die parlement as ʼn forum waar idees deur behoorlike gesprekke uitgeruil word nie.

“Anargisme kan nooit ʼn plaasvervanger wees vir luidrugtige idees nie. Dit wat gebeur het, is ʼn aanval op regmatige demokratiese instansies soos die parlement en ʼn aanval op die waardes waarop ons samelewing gebou is.”

Majodina het gesê die ANC loof alle lede van die parlement, ook diegene van opposisiepartye, dat hulle verhoed het dat dit tot ʼn baie ernstige botsing gelei het, en dat hulle kalm gebly het tydens “blatante uitlokking”.

Sy het gesê Gordhan word ook geloof dat hy selfbeheersing toegepas het toe hy uitgelok is.

Die ANC versoek ook baie streng sanksies teen die betrokke EFF-lede om seker te maak dat so iets nie weer gebeur nie.

Die organisasie Johannesburg Against Injustice (JAI), ‘n groep struggleveterane, het ook die minister verdedig en die EFF se gedrag veroordeel. “Dit sal in die geskiedenis opgeskryf word as die ergste vertoon van ondemokratiese gedrag deur ʼn party in ons demokratiese parlement.”

Die Helen Suzman-stigting (HSF) het Vrydag ook in ʼn verklaring gesê die gedrag van die EFF-LP’s is “verregaande”. “Die HSF neem met kommer kennis van die gebeure in die parlement en veroordeel die gedrag van die lede van die EFF ten sterkste.”

Die organisasie het gesê die optrede, wat op erge intimidasie neerkom, het geen plek in Suid-Afrika nie. “Ons doen ʼn beroep op die speaker van die parlement om die nodige stappe te doen om seker te maak dat daar baie streng opgetree word teen diegene, wat vir dié gedrag verantwoordelik is, wat as verregaande beskryf kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Kan iemand miskien net vir my sê watter optrede kan daar teen die EFF lede wees? Sal interessant wees om te weet

Chris Bosch

Hulle moet eff verban uit die parlement vir Ewing. Hulle het nou te vêr gegaan en daar moet nou optree word.

Willehond

Send in the clowns!!! Ha ha ha! Dit is mos n sirkus is dit nie??

Gerhard Bezuidenhout

En onthou ons belastingbetalers betaal die boewe se salarisse. Skande.

leser

en wat gaan met die eff lede gebeur, niks , nul , …..al , ……..