EFF se twiet oor verkragting skok

Twitter_logo_blueDie Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het hom Maandag gedistansieer van ʼn twiet wat op sy Wes-Kaapse Twitter-profiel uitgestuur is oor verkragting.

“Die Twitter-profiel word deur ʼn EFF-lid namens die provinsie bedryf, en daar is reeds stappe gedoen om seker te maak dit gebeur nie weer nie,” het Mbuyiseni Ndlozi, die party se nasionale woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Die EFF sal nooit iemand se verkragtingservaring gebruik vir politieke gewin nie.”

In die twiet vra die EFF-lid vir Nomboniswe Gasa, ʼn vroueregte aktivis wat glo verkrag is: “@nombonisogasa Het jy nie gesien nie? Was dit donker? Kan ons meer kry?”. Daar is ook ʼn skakel in die twiet geplaas na ʼn berig wat in November 2004 op IOL se webwerf geplaas is.

Volgens dié berig beweer Gasa sy in Januarie 1997 op Robbeneiland deur ʼn wit man verkrag. ʼn Ondersoek is van stapel gestuur en ʼn aantal wit mans wat in die tydperk op die eiland was, is ondervra. Die polisie het na sewe jaar die ondersoek beëindig.

Talle Twitter-verbruikers het hul skok oor die twiet uitgespreek. Die profiel is intussen van Twitter verwyder.

Ndlozi het gesê die EFF veroordeel die twiet en dat die party verkragtingslagoffers sal beskerm.

“Die EFF het die provinsie opdrag gegee om die nodige stappe te neem teen die individu wat die twiet uitgestuur het,” het Ndlozi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.