EFF seëvier in hofstryd teen joernaliste

(Video: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het sy hofstryd teen Julius Malema en sy EFF verloor.

Sanef het die gelykheidshof namens vyf joernaliste genader op aanklagte van intimidasie, teistering en aanranding, nadat hulle verbaal aangeval is deur mense wat gesê het hulle is ondersteuners van die EFF.

Die verslaggewers was Ranjeni Munusamy van die Tiso Blackstar Group, die ondersoekende joernalis Pauli van Wyk, Adriaan Basson, redakteur van News24, Vrye Weeblad-redakteur Max du Preez, asook Barry Bateman, ʼn senior verslaggewer van EWN.

Die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, het onlangs gehoor Munusamy het geld van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid gekry. Sy is daarna op spesiale verlof geplaas. Bateman is ook onlangs vir ʼn maand sonder betaling geskors en het ʼn finale waarskuwing ontvang nadat hy op kamera vasgevang is waar hy ʼn neerhalende term gebruik het om glo na Malema te verwys.

Malema het in November verlede jaar ʼn beroep op sy ondersteuners gedoen om af te reken met spesifieke verslaggewers wat hy daarvan beskuldig het dat hulle ondersteuners van “wit monopoliekapitaal” is.

Die verslaggewers het daarna talle dreigboodskappe ontvang en het hulle tot die hof gewend in ʼn poging om die EFF, Malema en sy volgelinge te verbied om joernaliste in die openbaar en op sosiale media te intimideer.

Regter Daisy Molefe het Donderdag bevind die media word nie beskerm ingevolge die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Diskriminasie, oftewel die Gelykheidswet, nie omdat joernalistiek ʼn loopbaankeuse is. Dit is dus anders as ras of geslag, waaroor mense nie ʼn keuse kan uitoefen nie, het IOL berig.

Die regter het luidens die berig ook gesê ongewilde, beledigende of omstrede opvattings is nie noodwendig haatspraak nie.

Sy het die aansoek van die hand gewys, maar geen kostebevel gemaak nie.

Sanef het in ʼn kort verklaring op Twitter gesê hy neem kennis van die uitspraak. “Sanef respekteer die hof se bevinding en wag vir die volledige uitspraak.”

Floyd Shivambu, adjunkpresident van die EFF, het ná die uitspraak na die saak as “beuselagtig en verspot” verwys.

“Ons het Stratkom [ʼn groep in die destydse apartheidsregering wat disinformasie versprei het] verslaan in hul pogings om die beweging vir ekonomiese emansipasie te laat ontspoor,” het Shivambu getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Koos B ·

Tot die hof is nou al aan mal ema se kant.CR moet ligloop hier kom moeilikheid vir hom.

Marinda ·

Stem saam. Hierdie is belis nie ‘n grap nie en kan ernstige nagevolge inhou!

Robert ·

Koos,
Wat jy saai sal jy maai. Die wiel draai stadig maar seker vir sommige van die joernaliste wat in elk geval op die selfde vlak as die eff is. Nie een party verdien enige respek van ons , die publiek nie!

Anoniem ·

Wat!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! die ou kom met moord weg maar soos jy se tot die howe is aan hulle kant. Ons kon dit seker verwag want hulle kan doen en se wat hulle wil en nie eers n haan sal daarna kraai nie.

HPV ·

Petrol op Malema se vuur. Nou sal ons hom hoor, letterlik kennis neem van hom.
Sy val kom egter al nader…

Cartoon ·

Molefe se dat iemand nie ‘n keuse kan uitvoer op ras of geslag nie? Maar mense maak tog hull eie keuse oor geslags keuses en sommiges bleik die velle en hare vir ‘n vale. Meeste bruin mense spring tussen swart en wit kant, afhangende wie die regerende pary is. Dit klink vir my eenvoudig na eie keuses soos met loopbaan keuses. Waarvan Daisy moontlik die verkeerde een gemaak het.

James ·

Die EFF betaal die regters se salarisse en is dus automaties onskuldig nou en altyd.

schaun ·

Die regter se beledigings kom nie neer op haatspraak nie,so as ons daisy de melker n onosele sot noem sou sy ons nie aankla nie ,as dit die geval is oor hoe sy die wet implementeer gaan ek haar verskriklike dinge noem

Jan maak 'n Plan ·

Geloofs oortuiging is ook ‘n keuse. Is dit dan ook nie deur die Gelykheidswet beskerm nie?

Swanna ·

Die feit dat MAX du Preeze onder hulle is voel ek nie eens sleg of naar dat hulle hul gat gesien het nie.

N Lourens Reitz ·

Swanna en so kan ek vir Adriaan Basson ook daarby voeg. Ek voel egter jammer vir Pauli van Wyk.

Suzette Geringer ·

JA en as dit nou ‘n blanke politieke leier was wat so teen joernaliste opgetree het sou die “blom” waarskynlik ‘n ander uitspraak gegee het :(

Wessel ·

As hulle Max du Preez en Adriaan Basson ‘n paar stampe gegee het, is hulle glad nie so sleg nie.

Wessel ·

Max du Preez en Adriaan Basson het al baie kere die Afrikaner verbaal aangeval.

Arak ·

Sover ek verstaan stel die regtelike diens kommissie die regters aan. Malema en Floyed is beide op die kommissie, so, ja, Malema is direk betrokke by die aanstelling van die regters. Dus, verbaas dit mens werklik dat hierdie klas uitspraak gemaak word?

Dries ·

Dit is hoekom die regstelsel n grap is net soos hulle regering vir wie hulle werk

gatiep ·

Dink ek kan voorspellings doen,want ek het geweet hy sal los kom.
Hoe gaan n mens ooit weer vetroue kan he in ons regstelsel.

N Lourens Reitz ·

Swanna en so kan ek vir Adriaan Basson ook daarby voeg. Ek voel egter jammer vir Pauli van Wyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.