EFF skors drie hoës

Dali Mpofu, voorsitter van die EFF Foto: EFF, Facebook

Dali Mpofu, voorsitter van die EFF Foto: EFF, Facebook

Drie top-beamptes van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is Saterdag uit die party geskors, het Dali Mpofu, voorsitter van die party, in Johannesburg aangekondig.

Khanyisile Litchfield-Tshabalala, Mpho Ramakatsa en Andile Mngxitama verloor ook hul setels in die parlement.

Lucky Twala, die vierde van die “Groep van Vier”, is reeds in Februarie vir drie jaar lank geskors. Dit sal binne ʼn jaar verval indien hy aan sekere voorwaardes voldoen. Hy moet onder andere skriftelik om verskoning vra aan Godrich Gardee, die sekretaris-generaal van die EFF; hy moet binne 10 dae in die parlement aanmeld; en hy mag nie skuldig bevind word aan enige oortreding volgens die EFF-grondwet of gedragskode nie.

Ramakatsa was die party se nasionale koördineerder; Mngxitama was ʼn lid van die interim sentrale beheerspan en die “oorlogsraad” tot die party se Nasionale Vergadering in Mangaung in Desember; en Litchfield-Tshabalala was ook ʼn lid van die interim sentrale beheerspan tot die Nasionale Vergadering. Twala was ʼn “gewone” lid.

Hul oortredings sluit in dat hulle met die media gepraat het na hul skorsing, dat hulle finansiële wanbestuur geïmpliseer het; dat hulle inligting aan die media uitgelek het; en dat hulle nie die Staatsrede bygewoon het nie.

Mngxitama het glo veral openbare uitlatings gemaak waartydens die party se leierskap en integriteit veroordeel is.

Die EFF het verlede jaar 21 setels in die parlement bekom toe Julius Malema ʼn verrassende terugkeer gemaak het nadat hy as leier van die ANC-jeugliga geskors is en sy eie party begin het.

Bron: Jenni Evans, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.