EFF stap uit regstreekse TV-uitsending

Dali Mpofu

Dali Mpofu

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Donderdag tydens ʼn regstreekse televisie-uitsending van ʼn ontbytinligtingsessie van The New Age-koerant uitgestap, aangesien hulle voel hulle is “geflous” om dit by te woon.

“Ons sou nie voor die verkiesing na hierdie ontbyt genooi word nie. Nou dat die verkiesing verby is, nou word ons genooi,” het Dali Mpofu, die party se woordvoerder, gesê voordat hy en ander afgevaardigdes van die party uitgestap het. “Ons is hierheen genooi en sou glo deel wees van die paneel. Ek dink iemand by Luthuli-huis [die ANC se hoofkantoor] het geskrik, en nou is ons in kennis gestel dat ons nie deel van die paneel gaan wees nie.”

Hy het The New Age, die televisienuuskanaal ANN7 en die SAUK, wat die debat regstreeks op SABC 2 uitgesaai het, daarvan beskuldig dat hulle deur die ANC gebruik word. “Indien instellings soos The New Age, ANN7 en SAUK gebruik gaan word, dan moet dit as ʼn faktor in ag geneem word in terme van ons prestasie in die verkiesing. Die staat se masjinerie is in die aanloop tot die verkiesing teen ons gebruik.”

Mpofu het The New Age daarvan beskuldig dat hulle die EFF onder valse voorwendsel na die inligtingsessie genooi het, en daarom het hulle uitgestap. “Ons is geflous om te kom deelneem, maar dit het nie gebeur nie. Om vir julle te wys watter tipe protespolitiek ons met parlementêre politiek gaan kombineer, het ons besluit om nou dadelik die ontbyt te verlaat,” het hy gesê.

Ayanda-Allie Paine, die gasvrou van die program, het Mpofu onderbreek en gesê die program moet ʼn advertensiebreuk neem. “Dit is slegs vir die adverteerders en nie om van julle ontslae te raak nie. Sit asseblief en geniet die ontbyt saam met ons,” het sy aan Mpofu gesê.

“Ek is jammer, ons moet gaan,” het Mpofu geantwoord.

Die ses EFF-lede, met hul rooi EFF-drag, het daarna opgestaan en vinnig uitgestap, en selfs van die oorblufte gaste met die hand gegroet.

Paine het ná die tyd verduidelik hoekom die groep nie toegelaat is om deel van die paneel te wees nie. “Ons het wel al die groot rolspelers, die top vier [politieke] partye, genooi. Sommige het geweier om te kom, so dit sou nie prakties wees om hulle toe te laat nie,” het sy gesê. “Ons wou alles gehad het, of niks.”

Geen politieke party het Donderdag aan die paneel deelgeneem nie. Politieke ontleders, waaronder Steven Friedman en Adam Habib, was deel van die paneel en het die 2014-verkiesing, die vorige verkiesings, en wat die uitslag vir sommige van die partye beteken, bespreek. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

So gaan hulle nog baie “uitstorm” as n ding nie na hulle sin is nie. Bedorwe klomp …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.