EFF stap uit toe Gordhan praat

Pravin Gordhan. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die laaste skof van Dinsdag se marathondebat oor die staatsrede het op dramatiese wyse begin toe die EFF uitgestap het uit protes teen die spreekbeurt van die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.

Die party is hewig gekant teen Gordhan se insluiting in die kabinet weens die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se bevinding dat hy onwettig opgetree het met sy goedkeuring van ʼn vroeë-aftreepakket vir die voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay.

Gordhan se toespraak was op die ou end nie baie aanvegbaar nie. Hy het erken dat die SAL in ʼn baie moeilike finansiële posisie is weens 12 jaar lange verliese, maar het aangekondig dat die wapenvervaardiger Denel darem alle salarisse kan betaal nadat ʼn lener na vore gekom het.

Nkasigang Koni (EFF) het die ANC geroskam omdat hulle nie meer so gefokus is op onteiening sonder vergoeding nie. Die EFF bly gekant teen die oordrag van titelaktes en het gevra dat die grondhof beter gefinansier word.

Nomsa Marchesi (DA) het verduidelik onder watter taai toestande onderwysers moet werk, en het gevra dat die Wes-Kaapse inbellyn teen geweld in skole landwyd uitgebrei word. Die DA is baie ontsteld dat Angie Motshekga weer aangestel is as minister van basiese onderwys.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het gesê die tyd raak min om ʼn nierassige Suid-Afrika te bou. Hy het toegegee dat beurtkrag die grootste terughoudende faktor teen ekonomiese groei in Suid-Afrika is.

Mantashe meen die mynbedryf is op die punt om weer te floreer. Vir die volgende twee jaar is daar 60 nuwe mynbouprojekte ter waarde van R110 miljard wat 32 000 werkgeleenthede sal skep. Sink, titanium, koper en kobalt is van die minerale wat aansienlike groei toon.

ʼn Nuwe ontwerp van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) word tans gefinaliseer nadat die vorige weergawe onttrek is. Groter klem word ook op die verwerking van minerale geplaas.

Die leier van die kleinste party in die Nasionale Vergadering is Ganief Hendricks van Al-Jamaah. Hy het ten gunste van omgewingsbewaring gepraat en gewaarsku teen Islamofobie in die weermag.

Armand Cloete (VF Plus) het gepraat ten gunste van moedertaalonderrig en het nogmaals die kollig laat val op die marteling wat plaasvind tydens plaasmoorde.

EFF-LP’s verlaat die Nasionale Vergadering tydens minister Pravin Gordhan se spreekbeurt.

In ʼn kleiharde toespraak het die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambu, aan Ramaphosa gesê sy drome is maar net hallusinasies en illusies. Hy het bygevoeg enigeen kan sien die Nasionale Ontwikkelingsplan het ontspoor, want eerder as die geprojekteerde werkloosheidsyfer van 14% staan dit in werklikheid op 27% terwyl staatskuld teenoor die bruto binnelandse produk op 60% (R3 triljoen) staan en sowel die rente op staatskuld as die begrotingstekort die hoogte inskiet.

Hy het gesê dis noodsaaklik om energievoorsiening te stabiliseer, maar die energiesamestelling sal moet verander. Volgens Shivambu is die huidige omdraaiplan vir Eskom deur Investec uitgedink en gaan nie werk nie.

Die EFF verwerp ook die regeringsbeleid van spesiale ekonomiese sones, want al die sones gesamentlik het nog nie eens 10 000 werkgeleenthede geskep nie en dra minder as 1% van BBP by. Sy party ondersteun inwaartse industrialisering met uitvoervaardighede en glo in desentralisering.

Die EFF gaan verskeie wetsontwerpe voorlê waaronder vir die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die skep van ʼn soewereine welvaartsfonds soos in Noorweë, ʼn verbeterde vorm van die MPRDA, ʼn wetsontwerp teen belastingvermyding, die daarstel van ʼn staatsbank en ʼn wet vir die voltydse aanstelling van kontrakwerkers in die staatsdiens.

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het hom verbind tot vinniger werkskepping as wat tans die geval is. Hy het ritse en ritse voorbeelde van nuwe beleggings in Suid-Afrika verskaf.

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het gesê drome sonder planne beteken niks nie en dat mense se drome deur die ANC vertrap word. Die beleid wat die ANC nastreef, is volgens hom die presiese soort sosialisme wat mense laat vlug uit Venezuela en Kuba.

Hy het Ramaphosa ook gewaarsku teen die wyse waarop die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, hom ondermyn.

Ter afsluiting van die debat het die minister van vervoer, Fikile Mbalula, toegegee dat die ANC nie perfek is nie, maar gesê die EFF is onsamehangend en die DA is Thatcheristies.

Die president sal Woensdagoggend repliek lewer op die debat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Hennie ·

My ook opgeval Susan. Moet seker wees vroeë aftree pakket. :)

Nico Strydom ·

Dagsê Susan
Jammer vir die oorsig – die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete

Jan Seerot ·

En wat van daardie “kleiharde” toespraak van die manne in die rooi oorpakke?
Dit klink maar soos hulle. Blaf maar géén byt nie, dus kleihard. Nuwe woord.

George in Bloem ·

Die lang en kort van die hele debat is dat SA in die bollie is,baie diep in die bollie.En daarvoor kan ons nutuurlik net die onbevoegde & korrupte ANC bedank.

Maljan ·

Hopelik n goeie tyd om die eff permanent uit staatsrede te skors. Dan kan landsake deur volwassenes bedryf word.

Lisa ·

aaaai die EFF. worry net oor die grondonteinding sonder vergoeding en blaas haat aan.

fred ·

kry stilaan die gevoel dat Gordhan ook besig is met n stoeledans…..soek voordurend geld om die SOE’s te betaal..

Johan Maritz ·

Ek dink ons mooet die EFF net ignoreer dan gaan hulle dieselfde pad loop as die PAC. Die PAC was in die 1990 net so radikaal en waar is hulle nou, want sonder media dekking is jy uit die oog en ook uit die hart.

Johan ·

Die EFF kry geweldig baie media dekking en omdat hulle in die kollig bly, het hulle aanhang. Andersins spreek hulle standpunte dat hulle groter chaos in Suid-Afrika wil veroorsaak as wat in Zimbabwe aan die gang is.

Gert van Wierdapark ·

Eintlik verdien die EFF se uitstappery nie eers vermelding nie. Miskien moet die auntie van Potch wat haar diere do mishandel het, n praat kans kry en die Efl opdrag gee om die sin uit te skryf, wat lui: “ons moet ons nie kinder-agtig gedra nie, = 1 000 keer, sonder om tussen in te praat!

Dries Moolman ·

Kinderagtig. Uiters kinderagtig. En al hulle ou toesprakies en segoedjies DRUP altyd van die sarkasme. En ons weet mos wat word gese van sarkasme…….

Lynette ·

As Mbalula verder gaan lees oor Margaret Thatcher sal hy besef sy was Engeland se redder, dus is DA op regte pad.

Kediksie ·

Soos Joost altyd gesê het toe hy nog n rugby kommentator was en daar is n onderonsie op die veld: “Daar swaai hulle die handsakke” He he he

John ·

… hmmm Fred, ek stem. Die oom is oorgewaardeer en nie oor die EFfies se wyshede nie. Hulle is eintlik ‘n grap; met hul ‘skoon en goeie’-regering gaan ons nog vinniger oor die krans stort. Floyd… ook met ‘n aanklag teen sy naam… Ons land trek nou waar die VSA was in 2007 voor die groot insinking, met hoop op ‘n reddingsboei… van waar?
SA verskaf werk, en krag en Sassa en mediese dienste aan almal bo in Afrika ea uit die Ooste en ons mense loop kaalvoet. Waarom? Of is die meeste van die regeringsamptenare ook eintlik uitlanders wat die afgelope 25 jaar hierheen verskuif het?

Wa ·

Die EFF moenie so selektief wees nie. Hulle moet uit die parlement stap elke keer wat iemand praat wat by onreelmatighede betrokke is. Hulle gaan nooit in die gebou wees nie en ons almal ‘n hengse guns doen.

Andreas ·

Plaas dat die EFF, na hulle uitgestap het, bly stap en stap sommer die see in na ‘n land ver hiervandaan.

MarieM ·

Die “LENER” wat na vore getree het om Denel te help, hoop net nie dit is ons pensioen gelde nie.

Heinrich ·

Ja, die stert wat die hond swaai. Die EFF wil nou nie juis hê dat ‘n goeie storie met feite bederf word nie, so hulle feëverhale is ook maar drome (nagmerries in ons geval).

Linda ·

Die EFF moet ophou om vir Ramaphosa en die hele kabinet te intimideer. Eintlik is hulle nie welkom in SA nie. Ek het n paar dae gelede hier by ons petrol garage gesien hoe n man n EFF lid slaan net omdat hy n EFF hoed gedra het !! Nogals n pastoor hahaha

Linda ·

Die EFF wil ons land regeer. Hulle is nie eens die meerderheid opposisie party nie ! en sal seker nooit wees nie.

Dries Moolman ·

Ons kan bid en hoop, Linda. As dit ooit moet gebeur hoop ek ek is lankal nie meer hier nie.

Judge Dredd ·

Kan hulle asseblief Gordhan kry om elke parlementere sitting te open.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.