EFF stel taai eise aan voornemende koalisievennote

Die EFF-leier Julius Malema. (Foto: EFF)

Die EFF het sy lys van eise bekend gemaak vir partye wat saam met hom ʼn koalisievennootskap wil aangaan. Talle plaaslike rade is onbeslis en in baie van hulle het die EFF die naasmeeste stemme op hom verenig.

Volgens die party het hy reeds oproepe van verskeie politieke partye gekry wat saam met hom wil werk en die rooi barette het ʼn koalisietaakspan saamgestel om die onderhandelings te hanteer. Dit bestaan onder andere uit adj.pres. Floyd Shivambu, nasionale voorsitter Veronica Mente en sekretaris-generaal Marshall Dlamini.

Die sentrale bevelspan het op ʼn raamwerk van beginsels besluit, waarvolgens die onderhandelingspan koalisiegesprekke moet aanpak. Die EFF sê diegene wat die EFF genader het, moet spesifieke beginsels steun en die partye moet hulle verbind tot sekere algemene spertye.

Ander partye moet ʼn begrip hê van die EFF se sewe nie-onderhandelbare kwessies vir ekonomiese vryheid, moet onder meer diensleweringsverbintenisse aangaan oor grond, werk, water, krag, spoeltoilette en versorging van gestremdes – en moet tydsraamwerke hieraan koppel – en ʼn koalisie waaraan die EFF deelneem, mag nie “wit oorheersing en Afrikanerdom” bekragtig nie.

Voorts moet die onderneming gegee word dat die EFF “eksklusief sal regeer” in sekere munisipaliteite in ruil vir ander. Daar mag nie inmenging in die aanstelling van munisipale en senior bestuurders wees nie en alle ooreenkomste moet bekend gemaak word.

Die EFF het die onderhandelingspan ook aangesê om tydsraamwerke vir die verwesenliking van sekere kwessies te bepaal. Dit sluit in:

  • Die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding binne ses maande moontlik te maak
  • Die skep van ʼn staatsbank binne ʼn jaar
  • Nasionalisering van die Reserwebank binne 12 maande
  • Die skep van ʼn farmaseutiese maatskappy in staatsbesit binne 12 maande
  • “Die Stem” moet binne 12 maande uit die volkslied verwyder word
  • Klinieke moet sewe dae per week en 24 uur per dag oop wees
  • Gratis sanitêre doekies vir almal

Die EFF sê hy beskou die plaaslike verkiesing as ʼn sleutelgeleentheid vir “progressiewe magte” om geskiedkundige vooruitgang in die stryd om algehele dekolonisasie te maak.

“Ons doen ʼn beroep op almal wat hulle vereenselwig met hierdie historiese plig om die waardigheid van die swart onderdruktes en werkersklas te herstel, om saam te staan.”

Die EFF het onderneem om deursigtig in sy koalisiegesprekke te wees en sê hy sal Suid-Afrikaners mettertyd op die hoogte daarvan bring.

Die party het ook diegene wat vir die EFF gestem het, bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

82 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wessel

Dis nou “WISHFULL THINKUNG”. Siestog!!!

gatgogga

“Gratis sanitêre doekies vir almal”
Ja, dis wat jy nodig het, Julias.

Harry

Rasistiese skelm

Johan

“Dream on ” maar ten minste kan julle verseker weet een party gaan definitief in koalisie met julle en dit is die EFF mens vertrou julle nie want as hulle het moes julle n ten minste 500% plus groei gehad het.

Lourens

Al wat ek met hulle sal praat is:- “pick a finger”, en cheers.