EFF storm uit raadsvergadering oor mosie-geskil

‘n Foto wat tydens die Nelson Mandelabaai-raadsvergadering geneem is (Foto: Raahil Sain/ANA)

Lede van die EFF het Donderdag in Port Elizabeth uit ʼn raadsvergadering gestorm ná ʼn geskil met speaker Jonathan Lawack oor die rede waarom dié party se mosie om Athol Trollip uit sy amp as DA-burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro te verwyder, nié op die agenda verskyn nie.

African News Agency (ANA) berig lede van die DA het te midde van die geskil voortgegaan om verskeie items op die agenda te bespreek.

Nadat die EFF, gevolg deur die ANC en die United Front (UF), die vergadering verlaat het, het Lawack gesê daar is nie meer ʼn kworum nie en dat die vergadering dus nié kan voortgaan nie.

Zilindile Vena, ʼn EFF-raadslid, het gesê die EFF is “baie ongelukkig” aangesien die party op 10 Mei ʼn mosie van wantroue gestel het om Trollip tot ʼn val te bring. Vena het Lawack daarvan beskuldig dat hy die reëls van die raadsvergadering buig om nié die mosie aan te hoor nie.

Malema het vroeër oor dié mosie gesê: “Die ANC is besig om stadigaan ons beleidsvoorstelle oor te neem. Die DA doen niks in daardie verband nie – hulle dryf al verder van ons weg. As die DA nie sy sienings oor die grondbeleid wysig nie, sal ons ook die metro-regerings in Johannesburg en Tshwane tot ʼn val bring.”

Die EFF se mosie was nié Donderdag op die agenda nie aangesien die party se papierwerk glo nie “aan vereistes voldoen het nie”.

Lawack het gesê die mosie moes volgens die vereistes reeds teen 9 Mei ingehandig gewees het. “Doen jouself ʼn guns en lees die reëls,” het Lawack op ʼn vraag van Vena geantwoord oor die rede waarom die mosie nie op die agenda is nie.

Ander mosies was dié van die United Front (UF) en die United Democratic Movement (UDM) om Lawack as speaker en Werner Senekal as DA-hoofsweep te verwyder en om die besluit terug te trek om die kantoor van die adjunkburgemeester te ontbind.

ʼn Buitengewone raadsvergadering sal nou op 30 Mei plaasvind. Die Nelson Mandelabaai-metro bedien Port Elizabeth, Uitenhage en omliggende gebiede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

De Villiers ·

Net soos met Aswin Willemse het die EFF bevooroordeeld opgetree sonder om hulself van die ware feite te vergewis voordat hulle opgetree het. En dan dink hulle altyd hulle is die arme slagoffer.

PLP ·

Ag nee shame kry die EFF die soveelste keer n pak slae in PE. Gee op Malema jy gaan daar nie wen nie. Julle steun raak al hoe minder.

Koos1 ·

Eish. Die reëls van die spel pas my nie meer nie, nou ek gaan loop!

Oom Kalahari ·

Dit is normaal vir EFF en kaders om so op te tree. Hul kan geen positiewe debat voer nie en is altyd “My way or the Highway” en tree altyd uitdagend/uitlokkend op en dan kom die skade aksies.

Alida ·

Die EFF moet groot word!!!! Hulle moet besef hulle onderhandel nie nou met ongeletterde mense nie.

Irene ·

Eff moet sommer permanent uit loop sa behoort nie aan eff nie gaan plant kool

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.