EFF-studente mag terugkeer na Wits

Vuyani Pambo, EFF Wits-takvoorsitter, en Dali Mpofu buite die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: ANA

Vuyani Pambo, EFF Wits-takvoorsitter, en Dali Mpofu buite die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdag beveel dat die skorsing van sewe EFF-studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) opgehef word.

Regter Motsamai Makume het ook gesê die studenteraad-verkiesing by die universiteit moet voortgaan soos beplan. “Die skorsing [van die studente] is tersyde geplaas en die respondent [Wits] is beveel om die studente direkte toegang tot universiteitsgeriewe soos lesinglokale, biblioteke, laboratoriums en eetsale te gee,” het Makume gesê.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Woensdag ʼn dringende hofaansoek ingedien om die skorsing van EFF-kandidate wat aan die studenteraad-verkiesing wil deelneem, op te hef. Die groep studente is geskors nadat hulle glo ʼn verkiesingsdebat ontwrig het. Houe het gedurende die vurige debat geval, wat uiteindelik in totale chaos ontaard het.

Die SR-verkiesings het Woensdag afgeskop en sal Donderdag tot ʼn einde kom. Die hof se besluit beteken dat die EFF nie aan die verkiesing sal deelneem nie.

Dali Mpofu, woordvoerder van die party, het gesê die EFF voel “geregverdig” deur die hof se beslissing. “Ons is verheug en geregverdig deur die uitspraak. Adam Habib [Wits se visekanselier en rektor] is veronderstel om ʼn ouerfiguur vir hierdie jongmense te wees, maar die belangrikste ding is dat die studente met hul akademiese lewe by die universiteit kan voortgaan,” het hy gesê.

“Die enigste rede hoekom die regter nie ʼn uitspraak wou gee met betrekking tot die verkiesing nie, is omdat dit reeds aan die gang is. Studenteverkiesings gebeur elke 12 maande. Die EFF sal volgende jaar wen en ek sê jou, Habib sal nie dan daar wees nie.”

Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, het gesê die instansie verwelkom die uitspraak. “Ons verstaan die uitspraak oor die skorsing en verbind ons daartoe om die prosesse te volg en die skorsings op te hef soos die regter beveel het. Ons is bly die verkiesing gaan voort en ons doen ʼn beroep op studente om vreedsaam en volgens die reëls deel te neem,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HEVW ·

Die liberalis moet nou maar hul broot wat hul gebotter en gekonfyt het sluk. Net jammer dit dien tot ons almal se ondergang. Baie van hulle sit reeds aan die anderkant van die grootwater.

Remondo ·

ek dog studente is daar om te leer , wat doek politieke partye daar ?

Remondo ·

wat het politiek by n onderig kampus te make? Wanorde word huidiglik oorals gesaai , en dan word howe belas met onnodige dringende kwessies. Dit was altyd n eer en groot vooreg om universiteit toe te kan gaan , nou word dit deur n oproerige en militante beweging geruineer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.