‘EFF te blameer vir Randfontein-betoging’

Jacob Mamabolo, LUR vir samewerkende regering in Gauteng, het Woensdag gesê dit was EFF-lede wat munisipale geboue aan die brand gesteek het tydens ʼn betoging in Mohlakeng buite Randfontein.

“Die EFF-lede het op ‘n plundertog gegaan en munisipale eiendomme aan die brand gesteek en alle paaie en ingange na die gebied versper, en sodoende die gemeenskap verhoed om te gaan werk,” het Mamabolo gesê.

Burgemeester Sylvia Thebenare se huis en motor, ʼn biblioteek, die munisipale kantore en die stadsaal is van die eiendomme wat aan die brand gesteek is. Volgens Mamabolo het die betogers ook winkels, wat deur buitelanders besit word, geplunder.

Mamabolo het die geweld veroordeel. “Dit is ‘n lafhartige daad en ‘n totale gebrek aan respek vir ons demokrasie. Die EFF sê weg met die demokrasie en pleit vir ‘n chaotiese samelewing wat gekenmerk word deur geweld, burgerlike onrus en algemene wanorde.”

Inwoners het Woensdagoggend begin betoog. Christina Mabala, voorsitter van die EFF se Wes-Rand-tak, het gesê ANC-lede het die brande begin. “Sommige mense binne die ANC het besluit om die geleentheid te gebruik om eiendomme te brand en te plunder. Ons as die EFF distansieer onsself van die gewelddadige optrede en skade aan eiendom,” het sy gesê.

Mabala het gesê die EFF het ʼn optog gereël van Mohlakeng na Randfontein om ʼn memorandum van griewe aan die burgemeester te oorhandig.

Volgens Mabala het die polisie met rubberkoeëls op die betogers losgebrand. “Ons het ook oproepe ontvang dat mense geboue in die township brand nadat die polisie met rubberkoeëls op die betogers losgebrand het. Mamabolo was nie daar nie en moet ophou om valse beskuldigings teen die EFF te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.