EFF te staan voor groot keuses

EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Marshall Dlamini. (Foto: ANA)

Die land se derde grootste politieke party, die EFF, hou in Desember sy leierskapverkiesing en vyfjaarlikse kongres waar strategiese en beleidsbesluite geneem gaan word wat ook groot implikasies vir ander politieke partye kan hê.

Dit lyk asof daar mededinging vir die meeste van die leierskapposisies gaan wees en die stryd in sommige gevalle is reeds hewig en vuil.

Relatief gematigde huidige posbekleërs soos adv. Dali Mpofu (nasionale voorsitter) en Godrich Gardee (sekretaris-generaal) se oorlewing in hul huidige posisies lyk ver van seker, wat groot gevolge kan hê vir die EFF se verhouding en samewerking met ander politieke partye.

Twee leiers wat basies verseker kan wees daarvan dat hulle onbestrede in hul poste herkies sal word, is die EFF-leier, Julius Malema, en die party se onderleier, Floyd Shivambu. Daar is geen teken van ander kandidate vir hul posisies nie.

Adv. Dali Mpofu.

Mpofu – een van die land se bekendste advokate – het nog nie finaal besluit of hy hom weer verkiesbaar gaan stel nie. Daar is ʼn voetsoolvlak-veldtog aan die gang, grootliks aangedryf deur EFF-strukture in Mpumalanga, om Mpofu te diskrediteer en teen te staan op grond daarvan dat hy na die mening van sy kritici nie sterk genoeg teen die ANC is in spesifiek sy hofwerk nie.

Gardee het groter probleme, want niemand anders nie as Malema self het die afgelope twee weke in die openbaar laat blyk hy is nie tevrede met Gardee se vertoning as sekretaris-generaal nie. Malema blyk die kandidatuur van die EFF-LP Marshall Dlamini te steun, wat Gardee dan moontlik sal vervang.

Dlamini beweeg baie naby aan Malema en word gesien as ʼn Malema-lojalis. Hy was onlangs in die nuus toe hy ʼn werknemer van die parlement aangerand het.

Mpofu en Gardee is twee van die sterkste voorstaanders van opposisiesamewerking in die EFF, en twee van die party se skerpste ANC-teenstanders. Gardee is trouens die amptelike skakel tussen die EFF en die DA.

As Mpofu en Gardee hul leierskapsposisies verloor, is ʼn sterk deel van die bolwerk om die EFF met die opposisie te laat saamwerk eerder as met die ANC waar die EFF die magsbalans hou, onder druk.

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Dit is bekend dat Malema se voorkeur oor samewerkingsvennote soms verander en hoewel hy hom gewoonlik teen die ANC skaar, het hy ook al partykeer die voorkeur gehad om met die ANC saam te werk.

Die verwagting is dat Dlamini – indien hy verkies word in Gardee se plek – by verstek Malema se voorkeur sal steun, wat (vergeleke met Gardee se konsekwente voorkeur vir die opposisie) betreklik goeie nuus vir die ANC is en betreklik slegte nuus is vir die opposisie.

Dit kan ook groot praktiese implikasies hê vir inwoners van plekke soos Pretoria, Johannesburg, Thabazimbi en Modimolle (Nylstroom), met ʼn relatief groter kans as voorheen dat hulle in ʼn stadium deur ʼn ANC/EFF-koalisie regeer kan word.

Die EFF-kongres, wat van 13 tot 16 Desember by Nasrec, suid van Johannesburg plaasvind, sal ook strategiese besluite kan neem oor of die EFF in stadsrade en wetgewers waar niemand ʼn volstrekte meerderheid behaal nie, saam met die opposisie moet werk, saam met die ANC, saam met niemand nie (en dus ʼn onstabiele minderheidsregering tot gevolg sal hê) of anders elke koalisie-situasie op die meriete van onmiddellike omstandighede moet beoordeel.

Beleidskwessies sal ook ter sprake kom en daar is sterk verwagtings dat die EFF met ʼn behoorlik omskrewe beleidsvoorstel vorendag kan kom oor hoe om die land uit sy huidige ekonomiese draaikolk te kry.

ʼn Ander kwessie wat baie bespreking kan ontlok is die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Hoewel die EFF, as ʼn sosialistiese party, die NVG-ideaal steun, het die party se gesondheidswoordvoerder, dr. Suzan Thembokwayo, reeds verskeie kere haar mening uitgespreek dat die ANC-regering nie die vermoë, kundigheid, bestuursvaardigheid of finansiering het om dit in werking te stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

aj ·

Binne ‘n soewereine staat beklee die staatpresident die posisie van OPPERBEVELVOERDER van die militêre magte.

Maar in SA het Julius Malema homself ook ‘aangestel’ as OPPERBEVELVOERDER van sy eie militêre mag! (vegters in rooi uniform).

Een soewereine staat kan nie TWEE OPPERBEVELVOERDERS hê nie … ook nie twee weermagte nie.

Malema pleeg verraad teen die STAAT?

Die EFF “VEGTERS” pleeg ook die misdaad van ‘wanvoorstelling as militêre vegters’. (ALTERNATIEWE MILITÊRE MAG?

Die EFF kwalifiseer daarom NIE as ‘n wettige politieke party nie? Hulle is ‘n militêre mag?

Hoe kon die OVK toelaat dat die EFF registreer as ‘n politieke party binne ons demokratiese staat? ( waar die grondwet voorsiening maak vir een wettige OPPERBEVELVOERDER en een wettige NASIONALE WEERMAG).

Hoe kon die OVK toelaat dat ‘n militêre mag (EFF) deelneem aan demokratiese verkiesings?

VAT HULLE HOF TOE!!! … die OVK én die EFF!!!

Carel ·

Dis nogal belangrik vir ons want al stem jy nou nie vir die EFF mag n regering op munisipale vlak hê wat die beheer deel met die EFF. Die effek van die sal implikasies op jou daaglikse lewe hê. So dit is belangrik om n oog te hou op wat die EFF doen.

Gert van Wierdapark ·

Die skrywer se verwagting dat die EFF met iets vorendag sal kom om die land uit die Ekonomiese draaikolk te kry, is nogal ‘n “vars siening”. Ongelukkig deel ek dit nie – dit laat my net Rooi sien!

@ Maroela ·

@ Maroela Media – Is hierdie nou nuus? Dit is my vyand. Ek stel nie belang in sy gemors nie. En moenie my kommentaar verwyder nie asseblief.

Grassie ·

Ja, @Maroela, dit is nie bloot net nuus nie, dit is noodsaaklike nuus. Die EFF is my vyand ook en die beginsel van “ken jou vyand” is vir ons baie noodsaaklik. Ons moet weet wie hulle is, wat hulle sê , wat hulle beplan en waartoe hulle moontlik in staat is sodat ons onself kan voorberei en paraat kan wees. Ons wil tog nie onkant betrap word nie.
Doet so voort, Maroela Media.

Se al Lankal. ·

Ek vra al lankal dat iemand vir my moet wys wat die eff ooit gedoen het om rus en vrede en vooruitgang in die land aan te moedig. Instede daarvan saai hulle net onmin en doen afbreuk aan die bietjie wat die swak regerende party probeer doen. Albei is ewe swak en weet nie wat demokrasie beteken nie. In hulle koppe voer hulle die een of anders oorlog. Kyk maar wat se Gardee wat die mense moet doen. Hulle volgelinge word aangehits om kleef myne by oom Angus se Loftus byeenkoms te plant om dit te verhoed. EN hy kom skotvry daarvan af! Mag enige iemand se , dat kleef myne by die eff se kongres geplant moet word? Indien wel, sit hy binne n oomblik in die tronk SONDER borgtog. Die eff moet verban word as n politieke party. “Viva, Viva democracy and freedom of speach”

risipit ·

Bid vir hulle. Leer hulle van God se liefde deur hulle te repekteer. Ek hoef nie met hulle saam te stem nie. Hulle sal my nooit onderkry nie. Ek kan hulle net leer dat mense MAG verskil en nog kan saamwerk om ‘n beter land te bou.
Wil jy opbou of afbreek? As meeste ne dink aan afbreek vrae jouself hou leer/help jy hulle om op te bou.

Feite ·

“Know your enemy”! Nie net die eff nie, maar ook die ANC, voer n sielkundige denke oorlog en as jy nie weet hoe om hulle idees te “counter” nie en jy reageer op n idee, dan het dit n kettingreaksie tot gevolg wat aan hulle mees populere radikale idees momentum verleen. Dit is maklik om die wind uit die seile te haal van populere radikale idees van die eff en ANC wanneer jy hulle kombinasie van ideologiee verstaan, maar ook sielkundige oorlog voering verstaan. Indien jy n anti-rewolusionere leier is en jy verstaan nie jou rewolusionere vyand se sielkundige denke oorlog nie en hoe om hulle idees irrelevant en nutteloos te maak nie, dan is dit nodeloos om te se dat jy n groter gevaar vir jouself en jou mense inhou, as die gevaar wat die eff of ANC se idees inhou. Indien jy verkeerd reageer en die verkeerde weerstand bied dan verleen jy momentum aan die idees, dan trek die oor en weer kettingreaksie van idees jou stadig maar Virseker in n doodsakker in en dit is presies wat n idee soos onwettige grondgryp aan die een kant teenoor wettige OSV aan die anderkant ten doel het. Beide is eintlik aan een kant, die een idee ondersteun eintlik die ander idee en so gaan die momentum van die OSV idee, lei tot n kettingreaksie van toekomstige populere radikale idees van verandering!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.