EFF tjoepstil oor Malema se belastingsake

Julius Malema. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) wil nie kommentaar lewer rakende die stand van sy partyleier Julius Malema se uitstaande belastingrekening van R16 miljoen nie.

“Ek kan dit nie antwoord nie aangesien ek geen inligting daaroor het nie,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, gesê. “Ek kan wel sê dat Malema parlement toe gaan.” Die EFF het 25 setels in die parlement gekry nadat die party meer as ‘n miljoen stemme op hom verenig het in verlede week se verkiesing.

Daar is vroeër berig dat Malema nie ‘n lid van die parlement kan word indien hy voor die verkiesing gesekwestreer sou word nie. In April vanjaar is die JSM-trustfonds op die been gebring om geld in te samel vir Malema. Mandisa Mashego, voorsitter van die trust, sê sy is nie in die posisie om te sê hoeveel geld reeds ingesamel is nie. “Dit is vertroulike inligting en ek word nie toegelaat om dit te doen nie, ek word ook deur die wet beskerm.”

Malema moet op 26 Mei in die hooggeregshof in Pretoria verskyn om sy voorlopige sekwestrasie teen te staan. In Februarie het regter Bill Prinsloo gelas dat Malema en enigiemand anders wat nie wil hê die bevel moet finaal gemaak word nie, tot 26 Mei het om redes te verskaf oor hoekom dit nie moet gebeur nie.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wil intussen ook nie kommentaar lewer rakende Malema se belastingsake nie. Volgens hofdokumente skuld Malema die taksman R16 miljoen nadat hy nie tussen 2006 en 2010 belastingopgawes ingedien het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.