EFF vaar uit oor ‘meer nuusdekking aan ANC’

Mandisa Mashego, voorsitter van die EFF in Gauteng, en Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die party. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Die EFF het Maandag aan die kommissie van ondersoek na bewerings van redaksionele inmenging by die SAUK gesê die ANC moet nie lugtyd gegee word as die party “niks nuuts het om te sê nie”.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het aan Joe Thloloe, voorsitter van die kommissie, gesê nuus moet nie soos bemarking hanteer word nie. “Byvoorbeeld, as die president [Cyril Ramaphosa] sy oggendstappies doen en jy vertel my elke dag hoe hy stap, is dit nie nuus nie. Ek kan nie elke dag wakker word en hoor vandag stap hy in Khayelitsha nie. Dit is nie meer nuus nie,” het Ndlozi gesê.

Die ANC se Zizi Kodwa het verlede week aan die kommissie gesê die regerende party moet 60% nuusdekking ontvang vergeleke met ander partye. Ndlozi meen dié voorstel is bevooroordeeld.

“Dit is dié soort houding wat dui op arrogansie en eiegeregtigheid, komende van ʼn persoon wat nie eens ʼn parlementslid is nie. Dit kom neer op bemarking van ʼn politieke party, nie nuus nie. Iets is nie nuuswaardig omdat dit 60% of 1% verteenwoordiging in die parlement het nie,” het Ndlozi gesê.

“As nuus regverdig, gebalanseerd en krities moet wees, kan daar nie van proporsionele verteenwoordiging gebruik gemaak word nie. Nuus moet deel wees van die joernalistieke arena. ʼn Joernalis gaan uit om die waarheid te kry, nie 60% nuusdekking vir die ANC nie.”

Hy het gesê as ʼn relatiewe nuwe politieke party word die EFF deur die SAUK eenkant gestoot, veral voor en tydens die 2014 algemene verkiesing.

“Toe Jimmy Matthews, die voormalige nuushoof, weg is by die SAUK, het hy in die openbaar gesê daar is ʼn besluit geneem om nie dekking aan die EFF te gee nie. Toe ander media soos eNCA, Al Jazeera en Son die EFF genooi het om op hul platforms te kom praat, het die ANC die EFF as ʼn oorlas gesien en Julius Malema en die EFF verbied, soos Matthews gesê het. Daar kan nie teen ons gediskrimineer word omdat ons as ʼn oorlas gesien word nie.”

Joe Thloloe, voorsitter van die kommissie van ondersoek na die SAUK. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Matthews het erken dat hy die EFF gesensor het terwyl hy deel van die openbare uitsaaier was en dat hy nie besluit geneem het, hoewel nie alleen nie. Hy het gesê die opdrag het gekom van Hlaudi Motsoeneng, die voormalige en berugte bedryfshoof by die uitsaaier, asook van sekere individue in die ANC wat gemeen het Malema moet nie nuusdekking gegee word nie, het Matthews in ʼn onderhoud gesê.

Thloloe het Ndlozi gevra of daar enige bewyse is dat die ANC “opdragte uitgedeel het” by die SAUK.

Ndlozi het geantwoord hy twyfel of daar enigiets op papier is of ʼn opname is om inmenging deur die ANC en sommige redakteurs by die SAUK te bewys.

“Dit is hoekom ek dink julle is dalk op die verloorpad. Dit is gedoen op ʼn manier wat nie ʼn spoor sal laat nie. Dit is nie eens ʼn ANC-beleid nie, maar Matthews se uitdruklike stelling het wel bewys [dit het gebeur]. Een manier om by die waarheid uit te kom, is deur erkennings van mense in hoë poste by die SAUK te kry, want dit is baie moeilik om mense te oortuig om sulke inligting bekend te maak.”

Hy het Thloloe aangemoedig om Matthews te nooi om voor die kommissie van ondersoek te kom getuig.

Ndlozi het gesê nuusdekking van die EFF deur die SAUK het sedert 2016 verbeter, ook tydens die munisipale verkiesings.

Die SAUK het die kommissie van ondersoek op die been gebring in ʼn poging om sy naam in ere te herstel ná talle skandale by die uitsaaier die afgelope paar jaar tydens die termyn van die voormalige minister van kommunikasie, Faith Muthambi, Motsoeneng en die uitsaaier se vorige raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Vryheid ·

Geen meer lugtyd aan die eff nie want hulle het lankal niks nuuts om te se nie. Altyd net die selfde ou storie!

Henk ·

Die EFF hits net misdaad aan. Derhalwe GEEN lugtyd vir hulle!!!

Mrs H ·

Soos Trump se “floating baby”, so kort EFF n “floating baby met n panga in die klein handjies”. Die president se stap toggies is meer inspirerend. EFF is haatlik en n nasionale en internasionale skaamte. Hel, ek sal eerder graag wil weet wat volgende op die president se spyskaart is, voor ek enigge iets van EFF hoef te sien of weet!

Spike ·

eff dink almal moet na hulle pype dans. Hulle gaan nog ontnugter word. Dwase

Shut up ·

Maar wie dink julle is julle? Julle het 6% steun so hoekom moan julle oor die ANC se dekking. EK is nou nie ANC nie maar hulle bly die regerende party, die EFF dink te veel van hulleself .. lees mooi .. 6% steun .. die ANC het met opnames alweer 62% steun getoon . juis omdat julle so tekere gaan het mense teruggeloop ANC toe .. BLY NOU ‘n sLAG STIL, dis die enigste land waarin ‘n party wat 6% het toegelaat word om die LAND TE RUN en wie se rassistiese uitsprake tot NIKS kom nie maar hulle is gou om ander te vervolg.

Casper Labuschagne ·

Die ironie is dat Julius Malema uit en uit ‘n skepping van die media is, heel van die begin af waar hy opgang gemaak het in die ANC jeugliga. As Julius praat is die mikrofone, kameras en notaboekies daar want hoe meer sensasie deur Julius, hoe meer koerante word verkoop.

Patriot ·

En hier gee julle hom nou ook media dekking.. dit waarna die eff so smag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.