EFF val vas op 10%-plafon

Julius Malema, leier van die EFF. (Foto: EFF)

Die EFF en sy brigade rooi barette het in die afgelope plaaslike verkiesing landwyd altesame 10,42% van die stemme op die party verenig – die derde meeste van alle partye en ʼn groei van meer as 2% sedert die 2016 munisipale verkiesing.

Sommige kenners sê egter dit lyk asof die party nou sy plafon bereik het en gaan sukkel om veel verder te groei. Daarvoor is die party se idees en ideologie té revolusionêr en sy leierskap te outokraties en onbetroubaar.

Julius Malema, leier van die EFF, het die afgelope week gesê die party is tevrede met sy groei en gaan nou begin beplan vir die toekoms. Die party is bereid om met enige party in ʼn koalisie te gaan, mits daardie party bereid is om onder meer die verskaffing van drinkwater, behoorlike sanitasie, elektrisiteit en spoeltoilette – en natuurlik grondhervorming – te versnel.

Al het net een uit elke tien mense in die afgelope verkiesing vir die EFF gestem, sal die party steeds nie ʼn invloedryke rol in munisipaliteite kan speel nie.

In talle munisipaliteite sal die EFF na dié verkiesing die geleentheid kry om saam met ʼn ander party te regeer. In meer as 20 onbesliste rade kan die EFF ook bloot sy steun vir die ANC gee vir die partye om saam beheer van ʼn streek te neem.

Prof. Pieter Duvenage, Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia en onafhanklike politieke interpreteerder, sê die EFF het effens beter gevaar as in die 2016-verkiesing, maar nietemin ʼn persentasiepunt verswak wanneer sy vertoning met die nasionale en provinsiale verkiesing van 2019 vergelyk word.

“Die EFF het klaarblyklik ʼn plafon bereik.

“Dit beteken die EFF se radikale en revolusionêre politiek kon in ʼn tyd van enorme werkloosheid en geweldige armoede nie inslag vind nie,” sê Duvenage.

Steun vir die EFF het eindelik op net meer as 10% landwyd te staan gekom. (Foto: EFF)

Hy sê hierdie was ʼn verkiesing en omstandighede waarin die EFF eintlik moes floreer.

“Hulle bly vir my ʼn party van die sosiale media. Hulle maak groot geraas en verskaf populistiese vermaak, maar hulle maak nie ʼn impak op die breë Suid-Afrikaanse bevolking nie – veral nie met hulle revolusionêre boodskap nie.”

Dít, meen Duvenage, is ʼn positiewe verwikkeling vir Suid-Afrika.

Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê daar moenie net na makrogetalle gekyk word nie. “Die aantal raadslede is wat saak maak. Hoeveel het jy en is dit genoeg om enige besluite te maak, of enige besluite te keer?”

Wanneer na dié getalle gekyk word, is dit weer eens duidelik dat die EFF gegroei het, maar dalk min invloed op enige besluite kan uitoefen.

Wanneer na groot metro’s gekyk word, het die EFF sterk gegroei in eThekwini. Die party het nou 25 setels nadat hy agt setels in die 2016-verkiesing verower het.

In die Nelson Mandelabaai-metro het die party nog twee setels gewen (die EFF het nou agt), in Johannesburg het die EFF ʼn setel minder as ná die vorige verkiesing (nou 29), in Buffalo City het steun vir die party ook gegroei en hy het nou 13 setels op die raad.

In Mangaung, tradisioneel ʼn streek waar die ANC groot steun geniet, het die EFF se vertoning ook verbeter en hy het nou drie meer setels (altesame 12) as in 2016.

Maar Henwood meen nes Duvanage dit lyk nie of die EFF deur die 10%-plafon kan breek nie.

“Die EFF beheer geen raad nie. Het hulle enige invloed, of gaan hulle net enigiets kan uitrig as deel van ʼn koalisie.”

Henwood sê daar is verskeie moontlike redes waarom die EFF sukkel om die 10%-kerf oor te steek. Die eerste hiervan is ʼn gebrek aan vertroue in die party se leierskap, sê hy.

“Tweedens dra hulle ʼn baie radikale beeld uit wat nie goed afgaan in Suid-Afrika nie.”

Henwood sê die party se beleidstandpunte wissel boonop die heeltyd en mense kan nie daarop peil trek nie. Nog ʼn rede is waarskynlik omdat die gedeelte van die bevolking waarop die EFF sy visier gestel het, nie een is wat aan verkiesings deelneem nie.

“In die EFF is die leier dominant, maar hy is ʼn leier wat afstoot en nie aantrek nie,” sê Henwood.

Die politieke ekonoom Ismail Lagardien skryf vandeesweek op Daily Maverick Suid-Afrikaners is – soms teen die verwagting in – eindelik nie verlei deur die EFF se retoriek nie.

Lagardien sê ook Suid-Afrikaners het nie ʼn aptyt vir die EFF se mengsel van kontemporêre fascisme en populisme, rasse-uitlokking, naamnoemery en gewoonte om sondebokke van mense te maak nie.

Hy meen die EFF en sy lojaliste het eindelik vertoning met substansie misgis.

Lagardien sê hoewel Malema mense met retoriek kon inspireer, kon hy dit uiteindelik nie in stemme tydens die verkiesing omskakel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Dan is ekke Baie Dankbaar!!

Riaan

Lyk my daai ML Merc was n duur prys vir die min stemme. So eintlik was die pap nie die sous werd nie……

Snowball

Ja wel, ‘n groot bek kry jou ook net so ver. Ek wonder hoeveel van dié wat sy saamtrekke bywoon is werklose buitelanders wat in elk geval nie mag stem nie; hulle daag net op vir die t-hempie of gratis hoenderboud. Dié dat hy so gul en gewillig ons grense oopgooi vir die res van Afrika…

Hennie J

n Lee blik maak die meeste geraas.

annie

Malema is ‘n brute opportunis wat almal net wil skaakmat om te vat. Baie van die mense van Limpopo is grensdraadklimmers wat grensdraadsitters word aan dié kant en kamma sal saamwerk wanneer hul afdreigingseise betaal sal word. So wil Malema en sy rooi trein vorder in die lewe: Een party sy nood is hul witbrood. Nou weer met die ANC ná hul munisipale verkiesingskade. Die Effies hoop om gou brode-onder-die-arms ook nuwe ’22-Merc’s voor hul groot huise se blink deure te kan parkeer.