EFF verander beleid oor sleutelkwessies

EFF-LP’s (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Die EFF se beleidsdokumente vir sy konferensie by Nasrec in Johannesburg later vandeesmaand bevat verskeie interessante beleidsveranderinge en beleidsverklarings wat ʼn groot impak op die politieke debat in die land kan hê.

Van dié beleidsverklarings sluit in dat alle EFF-leiers voorts tersiêre kwalifikasies sal moet hê en dat die EFF nie die nuwe nasionale gesondheidsversekering (NGV) sal ondersteun nie.

Die beleidsdokumente, wat sowat 250 bladsye beslaan, behels die EFF se siening van die verlede, hede en toekoms op grond van ʼn stortvloed data wat daarin vervat is.

Die party se lidmaatskaprekords toon die EFF het nou meer as honderd lede per wyk in meer as 80% van die stadsraadswyke in Suid-Afrika.

Die party se sewe pilare van sy beleid is onteiening van grond sonder vergoeding; nasionalisering van myne, banke en ander strategiese aspekte van die ekonomie sonder vergoeding; die uitskakeling van tenders deur die verbetering van staatskapasiteit; gratis onderwys, gesondheidsorg, behuising en sanitasie; beskermde nywerheidsontwikkeling; ontwikkeling van die Afrika-ekonomie, en skoon regering.

 

EFF-leiers Mbuyiseni Ndlozi, Marshall Dlamini, Floyd Shibambu en Julius Malema. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency/ANA)

Veranderings

Van 2024 af sal elke lid van die EFF se top-leierskap van omtrent 50 mense ʼn erkende tersiêre kwalifikasie moet hê om in die top-leierskap te kan dien.

Die party gee toe dat hy onseker is oor sy standpunt rakende tradisionele leiers. Waar die EFF in die verlede tradisionele leiers ter wille was, is een van die besluite wat van 13 tot die 16 Desember voor EFF-afgevaardigdes geplaas gaan word, die vraag of die party kan voortgaan om ʼn feodale en ondemokratiese stelsel soos tradisionele leierskap kan onderskryf. Tussen die lyne is die boodskap duidelik dat dit nié die geval behoort te wees nie.

Die hoofstukke oor maatskaplike beleid en onderwys is minder omvattend en ingrypend as van die ander hoofstukke, hoewel die onderwysfokus uiteraard val op dekolonisering en die verskaffing van gratis kwaliteitonderwys. Klem word ook geplaas op wat die EFF beskou as gebrekkige transformasie aan die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van die Witwatersrand.

 

Onteiening sonder vergoeding

’n Voorgestelde wysiging aan die Grondwet bring die eienaarskap van alle grond in Suid-Afrika in gedrang. (Foto: Morné van Rooyen)

In sy beleidsdokumente ontken die EFF ten sterkste dat sy grondbeleid wit mense teiken. Die party voer aan hy is ten gunste van die meer gelyke toebedeling van grond onder alle mense om ongelykheid te voorkom.

Daar is ʼn belangrike verandering in die EFF se grondbeleid te bespeur. Die party ontken dat hy alle mag aan die staat wil gee. Daar is trouens ʼn wegbeweeg van eenvlakkige staatseienaarskap van grond na iets wat meer ruimte laat vir diversifisering.

Die EFF voer aan dat stedelike grond as ʼn vaste bate een word met die huis daarop (ook ʼn vaste bate), so jou huis kan nie onteien word nie, maar dat dieselfde argument nie landbougrond geld nie.

Wat die wysiging van art. 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule) betref, is die voorstel dat die EFF nie instem tot enigiets anders as presiese EFF-beleid nie – daar word verwys na die waarskynlike voorstelle vanuit ANC-geledere as blote kosmetiese veranderings.

In praktyk kan dit beteken dat art. 25 nie gewysig word nie, want die ANC en EFF het mekaar se steun nodig om die vereiste tweederde-meerderheid vir die wysiging van die Grondwet te verkry, omdat die DA, IVP, VF Plus en ACDP teen enige wysiging van die Grondwet gekant is. Die ANC of die EFF (of albei) sal dus moet toegee as hulle die Grondwet verander wil kry.

 

(Argieffoto: pixabay)

Die NGV

In ʼn baie belangrike verwikkeling staan die EFF uiters krities oor die NGV. Hoewel die party die ideale van die NHI onderskryf, word ernstige kommer uitgespreek oor die vermoë van die staat om die stelsel suksesvol te implementeer en bestuur. Die waarskuwing word in die beleidsdokument gerig dat die EFF baie versigtig vir die voorgenome NHI moet wees.

 

Die ekonomie

Wat die party se ekonomiese beleid betref voer hy aan die Suid-Afrikaanse ekonomie is misvorm, en wys uit dat werkloosheid onder swart mense op 40% staan teenoor 7% vir wit mense. Eskom se probleme word aan die ANC se korrupsie en wanbestuur gewyt. Die EFF meen as staatsbeheerde ondernemings behoorlik bestuur word, kan hulle aandrywers van ekonomiese groei wees, en staan dus nie die privatisering van staatsbestuurde instellings voor nie. Veral die instandhouding van infrastruktuur word deur die EFF as belangrik beklemtoon.

As oplossing vir die huidige drukgang in die Suid-Afrikaanse ekonomie doen die EFF aan die hand dat die aanstelling van permanente eerder as kontrak- of stukwerkers noodsaaklik is, en dat die staat behoorlik beheer oorneem van staatsbeheerde ondernemings en strategiese bedrywe in die ekonomie. Hoewel die EFF in praktyk die gedeeltelike privatisering van staatsbates voorstaan, weier die party om dit privatisering te noem omdat die staat steeds die meerderheid van die aandele sal besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
sinies

Het Malema die hoof induna ‘n tersiere kwalifikasie?

Marius

Ek wonder hoe hulle die geld gaan kry om al hierdie voordele te finansier as die ekonomie stukkend genasionaliseer is. Gaan hulle maar net geld druk. Hallo hiper inflasie!!!

Stellie

Sinies, Malema het n BA graad. Seker so n jaar of 2 gelede deur Unisa verwerf.

Andre

7% werkloosheidsyfer onder blankes? Wat ‘n grap!

Sic?

Die choral Rouge is my gunsteling matinee opvoerders .