EFF verklaar uiteindelik skenkings

EFF-leier Julius Malema (Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency/ANA)

Die EEF het aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verklaar dat die party R3,1 miljoen aan skenkings vir die derde kwartaal van die 2021/’22-boekjaar ontvang het.

Die bedrag is Dinsdag in die OVK se derde en voorlaaste blootleggingsverslag oor partyfinansiering gepubliseer. Die kommissie het nie bekendgemaak wie dié geld geskenk het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat slegs ses politieke partye skenkings van meer as R100 000 tydens die tweede kwartaal (Julie tot September 2021) by die OVK verklaar het.

Ingevolge die Wet op Politieke Partyfinansiering moet alle skenkings bo R100 000 verklaar word, terwyl geen enkele skenking van meer as R15 miljoen per jaar aan ’n party toegelaat word nie.

Die EFF het egter ondanks ʼn reuseverkiesingsveldtog geen skenkings bo dié drempel vir die eerste en tweede kwartaal verklaar nie. Die DA het in November verlede jaar ʼn beroep op die kommissie gedoen om dringend ondersoek in te stel na die EFF se beweerde oortreding van dié wet, asook ongerymdhede met betrekking tot die ANC se verklarings.

Volgens die OVK se jongste verslag het 11 partye nou skenkings van altesame R46 miljoen vir die derde kwartaal verklaar.

Volgens die OVK se jongste verslag het 11 partye nou skenkings van altesame R46 miljoen vir die derde kwartaal verklaar. (Foto: Reint Dykema)

Dié partye sluit die DA (R12,5 miljoen), ANC (R22,8 miljoen), Vryheidsfront Plus (R484 438), GOOD (R340 447), die Inkatha Freedom Party (R787 588), Action SA (R5 miljoen) en die EFF in.

Die kommissie sê die 11 openbaarmakings verteenwoordig ʼn noemenswaardige toename in die aantal politieke partye wat in vergelyking met die eerste en tweede kwartale verklarings gemaak het.

“Dit is opmerklik dat slegs drie partye – Action SA, die ANC en die DA – deurgaans oor al drie kwartale verklarings gemaak het.”

Die algehele bedrag vir die derde kwartaal is groter as die sowat R30 miljoen wat vir die eerste kwartaal verklaar is, maar minder as die bykans R57 miljoen wat in die tweede kwartaal verklaar is.

Net meer as R5,6 miljoen van die verklaarde bedrag in die derde kwartaal is in goedere en dienste ontvang, terwyl R40,3 miljoen se geldelike skenkings ontvang is.

Die grootste enkele geldelike skenking van R15 miljoen is deur die ANC verklaar. Dié bedrag is volgens die party se verklaring deur die Batho Batho Trust geskenk.

Die OVK meen die toename in verklarings dui op ʼn verbeterde begrip en wyer aanvaarding van die wet, asook die behoefte aan groter deursigtigheid met betrekking tot partyfinansiering.

“Terwyl die kommissie graag wil sien dat hierdie tendens voortduur, is dit belangrik om te erken dat hierdie tydperk saam met ’n verkiesingstydperk – die 2021 plaaslike regeringsverkiesings – geval het.

“Daar blyk ’n positiewe korrelasie te wees tussen die aantal en grootte van skenkings en die verkiesingstydperk. Daar is ook ’n patroon van skenkers wat skenkings aan verskillende partye maak, op min of meer dieselfde wyse as wat die Veelparty Demokrasie Fonds bedoel is om te funksioneer.”

Die OVK sê skenkers soos die Harmony Gold-mynmaatskappy, African Rainbow Minerals, South African Breweries (SAB) en 3Sixty Health is van die maatskappye wat skenkings aan verskeie partye gemaak het.

“Sou die kommissie geloofwaardige inligting ontvang wat skenkings identifiseer wat nié deur enige politieke party verklaar is nie, sal ’n ondersoek ingevolge die wet ingestel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris dupreez ·

Sal interressant wees om te sien waar die eff skenkings vandaan kom.

Aai ·

Seker het die polisie van hulle geskiet gister oppad na daai CIT?

Willem ·

Sal eff of anc nou rerig die waarheid verklaar????Ag please!!!!!

Di ·

Hulle is almal so skelm soos ‘n piramideskema. Wens hulle was so goed om land in stand te hou soos hulle is as dit by korrupsie pleeg kom.

Misky ·

Druppel in die emmer van wat hulle werklik kry. T-shirts en KFC is duur vir al die ondersteuners as hulle moet gaan nonsens aanjaag en aangery word met busse.

Anoniem ·

Volgens die wet, geen enkele skenking van meer as 15 miljoen rand nie, maar verskeie skenkings van onder 15 miljoen rand is aanvaarbaar? Hulle kan net sowel die wet skrap.

JohanR ·

En is die VBS skenkings verklaar? Sal nie vir die lot ‘n vrot vel gee nie!

Owlie ·

Wat beteken die WET as partye nie binne n genoemde tyd skenkings verklaar nie?
Wat is die doel van die OVK as hierdie “nie verklaring binne sekere tyd” spmmer net verby gasn en laaaaaaaater eers verklaarvword?
Partye wat nie binne die genoemde tyd verklaar het nie hoort geskrap te word en so ook hul stemme – dit geld ook vir verklarings met geheime.

Di ·

Adriano Mazzotti is beslis een van hulle! Rooikappie groot vriende met hom.

pieter ·

Wat van die ander Miljoene wat hulle nie verklaar mie , hoekom word die klomp aangehaal in die media , hulle haat die wit mense .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.