EFF voor groot besluite in die Ramaphosa-era

Julius Malema, leier van die EFF, en Godrich Gardee, sekretaris-generaal, spreek verslaggewers in Johannesburg toe. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Die EFF staan voor groot besluite in die veranderde politiek sedert pres. Cyril Ramaphosa sy voorganger, oudpres. Jacob Zuma, vervang het.

Die land se derde grootste party staan voor die uitdaging van derde grootste partye vanoor die wêreld: Hoe beitel jy vir jou ʼn plekkie oop tussen twee veel groter opponente sonder om jou geloofwaardigheid en reg op selfstandige bestaan in te boet?

Tydens die Zuma-bewind het die EFF dit, soos ander opposisiepartye, maklik gehad. Die bewerings van kriminaliteit om Zuma se kop, waarvoor hy nou in die beskuldigdebank van die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Durban staan, het die ANC ʼn maklike opponent gemaak. Deur bloot te staan vir skoon, verantwoordbare regering en “die terugbetaal van die geld” uit  ʼn sosialistiese swart bewussynsperspektief, kon die EFF ʼn nis oopkrap en selfs met die DA, IVP en ander opposisiegroepe saamwerk om die ANC uit die magsgestoeltes te knikker.

Sedert Zuma die trekpas gekry het, is die opposisie se taak veel moeiliker. Boonop speel die ANC kat en muis met die EFF se aandrang op onteiening van grond sonder vergoeding – soms is hulle warm daaroor, ander kere weer koud.

Voorts het die EFF die afgelope drie weke twee keer ʼn vernederende bloedneus op die lyf geloop in hul pogings om Athol Trollip van die DA as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metropool in Port Elizabeth te ontsetel.

Die EFF-leier, Julius Malema, het twee weke gelede met groot geskal in die Port Elizabethse township New Brighton aangekondig dat Trollip se einde op hande is. Die DA se ooreenkomste met vier klein opposisiepartye – die ACDP, Cope, die Patriotic Alliance en die African Independent Congress – het veroorsaak dat Malema se berg ʼn muis gebaar het oor hierdie kwessie.

In die woorde van die Kaap Verdiese rewolusionêre held Amilchar Cabral: “Vertel geen leuens nie – maak nie aanspraak op enige maklike oorwinnings nie.”

Asof dit nie verleentheid genoeg was nie, het ʼn verdere mosie van wantroue in die DA-leierskap van dieselfde metro vandeesweek skipbreuk gely en het sowel die ANC as die EFF – toe hulle agterkom hulle kan nie wen nie – dieselfde tipe ontwrigtende gedrag geopenbaar wat volgens marknavorsing daartoe lei dat vele Suid-Afrikaners die EFF nie as ʼn waardige politieke opsie sien nie.

En nou sit die Kaap se DA-burgemeester, Patricia de Lille, vanmiddag in haar goudgeel rok op die verhoog van ʼn bloedrooi EFF-saamtrek in Brandfort, sowat 50 kilometer noord van Bloemfontein, en huldig die ontslape vuurvreter-politikus Winnie Madikizela-Mandela.

Hierop reageer die DA se nasionale woordvoerder, Refiloe Ntsekhe, met die stelling dat die DA en die EFF steeds in verskeie munisipaliteite saamwerk. Daarby sê die EFF se nasionale woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, vanmiddag by navraag aan Maroela Media: “Patricia het nog op geen platform gepraat oor ʼn persoon (Madikizela-Mandela) wat haar hegte vriendin was nie. Watter beter plek vir haar om oor Mama Winnie te praat as hier in Brandfort tussen die opposisiepartye, oor die korrupsie wat (dus onder die bewind van die ANC se Ace Magashule) in haar tuisprovinsie onder huisarres plaasgevind het.”

Dit is welbekend dat die EFF onseker is oor watter groepering – die ANC of die opposisie – om in 2019 te ondersteun in die geval dat niemand ʼn volstrekte meerderheid behaal nie. Daar is ook ʼn groot groep in die EFF wat nie hul gewig by enige ander party wil voeg nie.

Suid-Afrikaanse kiesers sal met belangstelling volg hoe die EFF die penarie van derde grootste partye hanteer in die aanloop tot die 2019-verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

John ·

Ons kan wel met sekerheid se dat die EFF nie die VFPlus sal loop en steun nie. Antie Pat het ok nie verniet haar galgeel rokkie aangetrek nie. Julius en sy mag dalk net ‘musical chairs’ speel en op ou vriende se skote beland.

Mrs H ·

Die vraag is, hoe groot van n realiteit kan dit moontlik wees dat die EFF die 2019 eleksies kan wen, selfs met koalissie van ander kleiner partye wat saam met EFF stem? As ek na hul skares orals kyk teenoor die ANC en ander skares, word ek benoud. Skat politieke ontleders en kenners sal beter weet wat die antwoord kan wees, maar as n mens net kan vasstel, sal ons almal n beter plan kan maak met minder onsekerheid. As die moontlikheid sterk is dat EFF kan wen, sal ek graag hier wil weg kom op een of ander manier, wat ek net nie weet hoe of waar nie?!

Linda ·

Ons mense moet maar net saam staan en bid dat hier vrede in ons land sal kan kom. My seun het n fantastiese werk in New Zealand gekry, maar ek, oor die ouderdom, kan nerens heen weg hardloop nie. Ek gaan n Suid-Afrikaner bly, maak nie saak wat nie !!!

Al ·

Gebed help deur ñ opregte persoonlike verhouding te hê met die Here. God is nog steeds in beheer van ons land – al lyk dit nie aldag so nie.
Die Here het Zuma ontsetel, en ja daar was baie storms voor dit gebeur het. Dis juis die storms wat mense se oë laat oopgaan het.
Juis het die Here ook gehelp dat die ANC en EFF bloedneus kry met mosie van wantroue teen DA burgermeester Athol Trollip in Nelson Mandelabaai.
Moet nooit vergeet waar die eintlike mag en krag lê nie – by die Here.
Apartheid moes vroeër afgeskaf gewees het, hierdie politieke turmoil sal hom later heeltemal uitspeel.

AJ ·

Politici het nie beginsels nie … net belange! …. eie belang!!!

Linda ·

AJ is heeltemal reg wat hy hier se. Politici, maak nie saak watter party nie, sien net om na hul eie belange. Hier noem ek ook graag die ou Nasionale Party. Hulle was maar net so korrup soos al die ander partye, en het gedurig planne beraam, hoe hulle hulself kan verryk. Politici het nie die vaagste idee wat beginsels behels nie. Ons huidige politici is gedurig teenstrydig met mekaar oor wie kry wat. Malema is nie n Zuma agent nie, hy wil ons land beheer sodat hy nog meer in sy sak kan steek. Onthou hoe hy SARS ens bedrieg het. Malema het geen visie nie. As hy enige visie gehad het en ons geskiedenis leer ken, sal hy besef dat wat hier in ons land is, insluitende snelwee het die blankes self ontwerp en gebou met behulp van betaalde arbeid. Hierdie mense het tot 18 uur per dag gewerk. Hier het nie n wonderwerk plaas gevind wat alles net sommerso van n wolk afgeval het nie. Nou wonder ek as hy al die plase wil vat, waar gaan ons kos vandaan kry, as die wereld sanksies begin instel ? Moet ons dan naderhand mekaar opeet of wat ??? In SA benodig ons baie dringend goeie leiers, met mense belange en n langtermyn visie, wat tans nerens bestaan nie !!! Hier is glad nie so iemand nie !!! Ons het nie n Trump of n Putin hier nie, ons politici is uiters swak en wankelrig !!!

Linda ·

Waarom AFRIFORM geld en mannekrag mors om waterdruppeltjies aan te vat wat Shaun Abrahams gepleeg het, kan ek nie antwoord nie ! Afriform moet van die Openbare Beskermer eerste ontslae raak. DAN moet hulle probeer om ons korrupte polisiemag uit te sorteer.Dan alle ander Staatsdepartemente, insluitende n ondersoek instel na buitensporige hoe inkomstes onder staatsamptenare !!! ens,

Al ·

Shaun Abrahams is nie ñ druppeltjie. Hy is ñ magtige pion juis omdat hy in een van die belangrikste poste sit in staatsdiens.
Als gaan oor bewyse, om die OB aan te vat moet jy oor behoorlike bewyse beskik, anders laat dit Afriforum met ñ rooi gesig.

Rynhardt ·

Linda,jy moet liewer vra wie is al Afriforum se geheime finansiele bronne,want dit gaan baie laat regop sit??Hoeveel maak Afriforum op n jaarlikse basis uit afrikaanssprekendes?????

Linda ·

Elke mens is verantwoordelik vir sy of haar keuses wat gemaak word. Jy kan en mag niemand blameer as jy swak keuses langs die pad gemaak het. Blameer net jouself asb.

PLP ·

Die EFF en in besonder Malema is besig om stoom te verloor en is op die afdraande pad. Baie van sy huidige ondersteuners gaan terugkeer ANC toe en vir die ANC stem. Weet nie of die EFF enige noemenswaardige betekenis vir n koalisie met enige ander party na 2019 sal wees nie. Ondersteuners soek na n sterk leier wat sy man kan staan. Nie soos Malema en sy manne maak as hulle nie hulle sin kan kry nie, Soos in PE skree en skop soos n stout kind. Die DA gaan nerens nie, Elke keer as die EFF bloedneus kry (en dit gebeur al hoe meer) dan is Malema nerens te sien nie. Hy is n swak leier en sy mense kom dit agter.

leon ·

Malema maak foute maar sy steun groei op die rug van onhaalbare beloftes. 2019 gaan EFF hul setels in die parlement verdubbel. Malema se beleid van nasionalisering sal natuurlik soos elders oor die lang termyn faal, maar tot groot skade aan die land en mense wit en swart.

Wolf ·

Die eff het twee keuses:
1) Ontbind as n politieke party en word deel van die anc.
2) Hou aan om die publiek op te steek teen als wat reg is en verdeel die anc stem.
In dien hulle enige van hierdie twee keuses moet uitoefen hoop ek dis keuse * 2. Kom ons regdenkendes stem net vir een party, en dit is n party wat die belange van die minderheids groepe op die hart dra. Sodoende kry ons meer stemme in die parlement. Sterkte met julle keuse.

Willem ·

Julius sal net ANC toe gaan as hy en sy span se toekoms in die politiek verseker is. Dalk kan die ANC hom/hulle ‘n aanbod maak wat hy nie sal weier nie. Wat wel so is: 1) Julius is magsbehep en wil voor gehore optree, skares, hy hou van wat hy sê, hy drink die handeklap en gejuig in, hy kan nie sonder sy ego nie, en 2) indien Julius uit die politiek sal moet padgee, irrelevant raak, sal daar geen ander werk vir hom wees nie, niemand sal hom buite die politiek indiens wil neem nie, dalk begin hy dan weer sy eie tenderpreneur besigheid.

Jules ·

AG die EFF Sal by die ANC aansluit en MALEMA sal ‘n ministers posisie kry . ‘n posisie waaruit hy sy haat en wraak teenoor die witman kan voortsit .. moet tog nie drome droom en gesigte sien nie . .. die ANC en EFF haat die witman . en as daar nie wittes is om te dreig en wittes se grond en geld en besighede is om af te vat nie HET HULLE NIE WERK NIE .. 33% munisipaliteite werk, SAL werk nie meer nie, ESKOM werk nie meer nie SAUK werk nie meer nie DENEL werk nie meer nie .. almal is op hulle laaste bene as hulle nie gou staatshulp (lees belasting van wittes) kry nie … die gemors gaan net groter word.

Rynhardt ·

DA,hoekom onsteld dat De Lille op verhoog sit tussen EFF???Beide jul partye het al saamgewerk en ondersteun regstellende aksie teen afrikaanssprekendes!SA het lankal drie Anc-partye!Dit se slles oor die politieke bestel van land!????????

hoe die ·

eff waa maae nogaltyd die anc se brakkies. blaf wanneer die anc se saaaa. wat het verander? hulle sal maae te dankbaar weea om terug te gaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.