EFF vra lede om by studentebetogings aan te sluit

Wits-studente betoog in die strate van Braamfontein in Johannesburg (10 Oktober 2016). Foto: Verskaf

Wits-studente betoog in die strate van Braamfontein in Johannesburg (10 Oktober 2016). Foto: Verskaf

Die EFF in Gauteng het ʼn beroep op sy lede en ondersteuners gedoen om hulle aan te sluit by die betogings vir gratis onderwys op verskeie kampusse in Gauteng.

In ʼn verklaring wat onder meer via WhatsApp versprei is, vra die party sy lede om solidariteit met studente se stryd vir gratis onderrig te toon. EFF-lede is gevra om reeds 06:00 vanoggend by Gauteng-kampusse aan te meld, onder meer die verskillende kampusse van die Universiteit van Johannesburg (UJ), die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), die Hatfield-kampus van die Universiteit van Pretoria (UP) en die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT).

“Maak seker jy is daar op enige moontlike manier. Stel jouself beskikbaar vir die 2016-sluiting van al die groot universiteite in Gauteng en toon stewige solidariteit met die stryd van ons kinders. Ons sal nooit terugstaan nie en ons sal nooit opgee nie! #FreeEducationNow,” lui die verklaring.

Mandisa Mashego, waarnemende voorsitter van die EFF in Gauteng, het aan Maroela Media gesê dat die dokument as interne kommunikasie aan sy lede versprei is en nie as ʼn mediaverklaring uitgereik is nie, maar waarskynlik intussen op sosiale media beland het.

Wits het Maandagaand in ʼn verklaring gesê alle lesings sal Dinsdag normaalweg hervat word, ten spyte van Maandag se erge voorvalle van geweld op die kampus en in die strate van Braamfontein. “Ons het ʼn uitdagende week wat voorlê, maar ons is vasbeslote om die volle akademiese program weer op die regte pad te kry,” het die universiteit gesê.

Die UP het in ʼn verklaring gesê akademiese bedrywighede sal Dinsdag geheel en al opgeskort wees weens die plofbare situasie op die kampus. Die universiteit het gesê hy hoop om klasse Woensdag weer te hervat, maar sal dit eers in ʼn latere stadium met studente kommunikeer. Die TUT het ook gesê hy sal eers Woensdag sy akademiese program hervat.

Die Universiteit Kaapstad (UK), die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) het almal hul klasse en toetse vir Dinsdag opgeskort weens die voortslepende studentebetogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Kobus (Pretoria) ·

Dit is uitstekende nuus!! Nou is daar ‘n instansie wat gedagvaar kan word vir skade agv vandalisme.

Kobus (Pretoria) ·

Dit is uitstekende nuus!! Nou is daar ‘n instansie wat gedagvaar kan word vir skade agv vandalisme.

Marietjie ·

Indien die EFF aansluit is dit nie meer studente betogings nie, maar onluste. Kan die Weermag dan help?

pieter ·

Geweet die EFF het iets hiermee uit te waai hulle raak nou erger as die ANC sluit hulle toe wat so praat ma lyk universiteit bestuur bang vir die studente skors hulle eenvoudig en verban hulle vd kampus wat is so moeilik daaraan. Polisie is daar om wet en orde te handhaaf dis hulle plig. So los die polisie uit dat hulle hul werk kan doen.

Peter ·

En daar steek die sg “Derde mag” nou sy lelike koo uit. Wat kom na “Fees must fall?” Dié mense sál nooit tevrede gestel word nie. Wanneer daar niks meer oorbly wat hulle gratis kan ooeis nie sal hulle mekaar begin aanval. Kry vir jou zuma, jy wou mos! Jý en jou regering het mos leë beloftes gemaak om stemme te werf en nou sit jul handjies gevou en plaas die verantwoordelikheid op die privaat sake sektor en die belastingbetaler. Skud bietjie jul eie sakke vir “julle” kinders se tersiêre opleiding.. Dis wat gebeur wanneer een blinde ‘n ander blinde probeer lei. Mense wat ongeskoold is kan nie ‘n land regeer nie.

Daan OberhoLzer ·

Ek het lankal vermoed dat die EEF agter hierdie betogings sit.

Callie van der Merwe ·

Hierdie situasie sal ongelukkig net op die harde manier opgelos kan word! Rubber en water gaan nie meer help nie. Sulke anargie en weteloosheid sal in GEEN land ter wereld toegelaat word nie!

TTh ·

Die ou bedeling kon so iets hanteer, die nuwe regering het nie die vermoe nie, dit sou maklik wees om die belhamels te identifiseer en te nutraliseer, maar die huidige regering dink ek sit hier agter veral nou dat die EFF bykom, finale fase van die ANC rewolusieplan – hou maar dop?!

Louise E ·

Dit was nog nooit net studente nie, enige werklose fossiel word aangery om te help plunder. Wat gaan van ons kinders word in hierdie land?

Buks Barnard ·

‘n Student is iemand wat STUDEER. Ek sien niemand studeer op hierdie foto nie. Op grond waarvan word hulle “studente” genoem? Al wat op die foto wys, is TERRORISTE en MISDADIGERS; nie studente nie. Hoekom moet die terroriste se misdade met troetelnaampies soos “studente” weggepraat word? Dit is semantiese bedrog en valse, misleidende knegjoernalistiek.

Hilda ·

Buks 200% vir jou! Ek dink nie iemand kon dit beter stel nie! Knap gedaan.

Evanthe ·

Daar moet nou ‘n einde gemaak word. Identifiseer die wat nie vir eksamen kwalifiseer nie en hou hulle buite die universiteit waar hulle maar kan betoog. Hulle is net ‘n handjie vol belhamels wat eenvoudig in hegtenis geneem moet word as hulle eiendom beskadig. As hulle nie nou gestop word nie gaan die meerderheid daaronder ly wat nie kan skryf nie. Dan word dit nie meer “Fees must fall” nie maar “Pass one pass all” en groter anargie.

Graham ·

Kom niemand by UNISA draai maak nie ? Ai mense, het julle ons studente vergeet ? Dit wys jou net, die is eensydig en dit is mense met persoonlike en verwronge agendas. Dit is tyd v noodtoestand afkondig en ek wil eintlik sê die weermag moet kom help maar dan weet ek ook dat hulle net so useless soos die polisie is. Net klomp tjek-collectors en dit is dit. SA, waar gaan jy heen ?

nanna ·

Ja nogal snaaks dat die Mamelodi kampus en al die ander kampusse waar daar minder wit studente of geen wit studente is nie so erg deurloop onder die plunderaars nie. Ek sê weer betalende ouers moet universiteite begin verantwoordelik hou vir terug betaling van 2016 se klasgelde en koshuisgelde dan sal jy sien hie vinnig hulle begin optree om betalende studente veilig te hou

moedeloos ·

Waarheen gaan ons land heen ?? !!! Dan gaan hulle seker betoog omdat die goed wat afgebrand opgebou moet word !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.