EFF wen hofsaak teen sanksies

Julius Malema (17 Desember 2014) Foto: EFF, Facebook

Julius Malema (17 Desember 2014) Foto: EFF, Facebook

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het ʼn hofinterdik gewen wat verhoed dat sanksies op sy lede in die parlement toegepas kan word, het die SAUK Dinsdag berig.

Regter Dennis Davis het die interdik in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegestaan.

Julius Malema se party hulle na die hof gewend om 20 van sy LP’s se skorsing uit die parlement teen te staan. Davis het argumente van Dumisa Ntsebeza, vir die EFF, en Willie Duminy, vir die parlement, aangehoor.

Die EFF het die aansoek ingedien na die LP’s verlede maand deur die parlementêre komitee oor regte en voorregte skuldig bevind is aan wangedrag en gevolglik geskors is. Malema, hoofsweep Floyd Shivambu, Godrich Garee, Mpho Ramakatsa, Khanyisile Litchfield-Tshabalala en Mbuyiseni Ndlozi is vir 30 dae sonder vergoeding geskors. EFF-LP’s Elsabe Louw, Ngwanamakwetle Mashabela, Nthako Matiase, Hlengiwe Maxon, Magdalene Moonsamy en Andile Mngxitama is vir 14 dae geskors. Agt EFF-LP’s moes die huis persoonlik om verskoning vra en hulle is ook ʼn boete gelykstaande aan 14 dae se salaris en toelae opgelê.

Die EFF het 25 LP’s in die parlement.

Die saak het sy oorsprong toe die LP’s op 21 Augustus “betaal terug die geld” in die Nasionale Vergadering begin dreunsing het terwyl pres. Jacob Zuma vrae beantwoord het. Hulle het verwys na ʼn verslag van die Openbare Beskermer waarin sy aanbeveel het dat Zuma ʼn gedeelte van die R246 miljoen wat aan opgraderings by sy privaat woning in Nkandla spandeer is, moet terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CAV ·

Ja wel. Geen verrassing nie. Indien die uitspraak nou anders was, sou die EFF nog verder betogings en moles veroorsaak totdat daar toegegee was na hulle eise. Dis mos hoe hulle dinge regkry – geweld en skrikbewind

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.