
Julius Malema tydens die perskonferensie op 13 Oktober 2016 (Skermskoot uit EWN-video van die konferensie)
Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Donderdag gesê hy wil ʼn kriminele saak teen Malusi Gigaba, minister van finansies, aanhangig maak oor die aanskaffing van diesellokomotiewe deur Transnet.
Die EFF wil ook moontlik klagtes indien teen die Transnet-raad toe ʼn tender vir 465 lokomotiewe in 2013 toegeken is.
Julius Malema, leier van die EFF, het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie dokumente beskikbaar gemaak met besonderhede oor die beweerde verhoogde kostes van die lokomotiewe van R30 miljoen tot R42 miljoen per lokomotief.
Die inligting wat hy vrygestel het, is vervat in ʼn verslag, “Betrayal of Promise: How South Africa is Being Stolen”, wat ʼn groep akademici verlede maand publiek gemaak het.
Die verslag dui aan hoe sleutelpersone aangestel is en beweer dat die land gekaap is deur korrupsie in die land se openbare ondernemings. Daar is glo ook besonderhede hoe die kaping versnel het nadat Gigaba in 2010 as minister van openbare ondernemings aangestel is en hoe die Gupta-familie miljarde rand bekom het danksy staatskontrakte.
Malema het Donderdag die bieërs van die tender vir die lokomotiewe versoek om na vore te kom en die party by te staan om ʼn kriminele saak teen Gigaba, die Transnet-raad en die voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Brian Molefe, aanhangig te maak.
“Toe die aanbod gefinaliseer is, is al die maatskappye versoek om ʼn finale aanbod te maak aan die aanskaffingskomitee. Die finale aanbod vir ʼn diesellokomotief van China North was R30 miljoen per lokomotief, die tweede was General Electric teen R27 miljoen. Bombadier het R32 miljoen vir elke elektriese lokomotief gevra en China South meer as R32 miljoen,” het Malema aan verslaggewers gesê.
“Die komitee het toe besluit om weer te onderhandel vir goedkoper pryse en die beste aanbod te aanvaar. China North het sy aanbod tot R27 miljoen verminder en General Electric tot R24 miljoen.
“Dit was ʼn goeie ding, want die regering sou nou geld spaar by Transnet. Daarna het die Guptas in 2014 toegetree deur maatskappye genaamd Regiments Capital en Trillian. Toe hulle met die werk begin, het die pryse vir die lokomotiewe skielik gestyg. Ná advies deur Regiment, het General Electric se aanbod gestyg tot R33 miljoen.
“Alles het verander. Hulle het nie die pryse verlaag nie, maar dit verhoog en miljarde in hul sak gesteek deur korrupsie.”
Malema het ook verwys na ʼn brief wat Gigaba, tydens sy termyn by openbare ondernemings, glo aan die wapenvervaardiger Denel gestuur het oor lokomotief-vereistes. “Waarom sou ʼn minister ʼn brief skryf oor lokomotief-vereistes? Hy moedig Denel in dieselfde brief ook aan om nie met [voormalige minister van finansies Pravin] Gordhan saam te werk nie, maar eerder om hom direk te kontak.
“Daar is nie ʼn enkele land nie, nie eers ontwikkelde lande nie, wat lokomotiewe teen dié bedrae aangekoop het nie. Waarom moet ons hierdie bedrae aanvaar? Dis duidelik dat daar in hierdie geval geen vergelyking was met ander lande oor pryse nie. Indien daar vergelykings getref is, is dit geïgnoreer.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
om inligting van kriminele optrede te swyg maak jou medepligtig daar aan Julius Malema. na vier jaar wil jy die sak patats uitskud. dit maak jou nie minder skuldig nie. gaan jy nou staatsgetuie word?
Ek kan hierdie ou ook nie verstaan net wanneer ek dink hy is die vyand doen hy weer iets positief soos nou .
Mooi Ju-Ju roer hulle!
Vertrou hom niks ! Hy dra baie haat in sy hart rond
Sa, sa, sa, vat hom flaffie!!!!!!!!!!!!!