EFF wil staat dagvaar oor Collins Khosa-dood

Die EFF-leier Julius Malema tydens Maandagoggend se betoging voor die Amerikaanse ambassade in Pretoria. Mense het ook in talle ander stede in die land betoog. (Foto: EFF)

Julius Malema, leier van die EFF, sê die party het begin met regstappe om te verseker Collins Khosa se gesin – en ander wat soos hy deur lede van Suid-Afrika se veiligheidsmagte tydens die afsonderingstydperk doodgemaak is – word vergoed.

“Ons wou nooit die storie vertel nie, maar ons gaan dit vandag doen. Daar is talle ander stories waarvan die EFF weet maar waaroor ons nie ʼn bohaai opskop nie. Ons het met die [Khosa]-gesin vergader en vir hulle regsverteenwoordiging gereël sodat hulle dié regering wat ʼn swart man doodgemaak het, kan beveg,” het Malema aan ʼn skare ondersteuners voor die Amerikaanse ambassade in Pretoria gesê.

Die groep is byeen onder die vaandel van die #BlackLivesMatter-veldtog.

“Ons gaan nou die regering dagvaar. Vergeet van daai verslag van die weermag wat lui dat die soldate nie aandadig is nie. Dit is vriende wat mekaar probeer tevrede stel. Ons sal hulle in ʼn onpartydige hof sien. Hulle gaan dié familie betaal.”

Khosa se familie, ook sy weduwee, Nomsa Montsha, het by die betoging aangesluit.

Malema het onderneem dat elkeen wat deur die weermag se optrede tydens die afsonderingstyd beseer is, vergoed sal word.

“Ons het die beste regsbreine in Suid-Afrika stilweg byeengebring om die [Khosa]-gesin te help. Ons het self vir Khosa begrawe. Ons het die lykshuis betaal, ons het die liggaam verwyder sodat hy tuis begrawe kon word. Ons is nie vandag saam met die gesin oor #BlackLivesMatter nie. In die EFF maak swart lewens elke dag saak.”

Die hooggeregshof het verlede maand beveel dat die soldate, polisielede en lede van die Johannesburgse metropolisie wat by Khosa se beweerde aanranding betrokke was, hangende ʼn ondersoek geskors moet word.

Die weermag se eie, interne ondersoek het diegene wat by Khosa se dood betrek is, van alle blaam onthef. Die polisie is steeds besig met sy eie ondersoek.

Maandag se betoging het driftig afgeskop toe Malema beweer het dat die “rassistiese” veiligheidsbeamptes van die ambassade die betogers verhoed het om voor die gebou te kniel.

“Die wagte voel hulle is meerderwaardig bó parlementslede omdat hulle wit is. Hulle het geen ontsag vir Afrika-leiers nie. Vir daardie wit [ambassade]-personeel om ons te respekteer, moet ons die grond besit. Dan, wanneer ons hierheen kom, sal hulle weet die grondeienaar het aangekom. Hierdie is ons grond,” het Malema gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
claudette

Wat van ons plaasboere wat hulle lewe verloor het in die tyd van inperking…

JohanR

Waaneer het die EFF wakker geword, nadat hulle op 26de Maart aan die slaap geraak het? Niemand het ‘n kamera hulle kant toe gewys nie, soe hulle was maar bietjie verveeld!

Lorna

Haai jou…… white live lives matter to
Bla bla
So by the way het jy met jou grootbek gehoor wat se gewoonte misdadeger George floyd was
Ok sit regverdig seker nie manier hoe hy dood is nie
Maar ja stem saam dat Khosa se dood regverdigheid verdien

Adam

Ek dink die EFF kan sommer self vir die gesin betaal uit die geld wat hulle uit VBS bank geplunder het.

Plaaskind

Gaan speel met jou karretjies in die sand.