Effek van nuwe virusvariant oor 2 weke sigbaar

Die “kommerwekkende” B.1.1.529-variant van die koronavirus is waarskynlik al in meeste van die provinsies in Suid-Afrika aanwesig. (Foto bloot ter illustrasie: JAM STA ROSA / AFP)

Duitsland se BioNTech het Vrydag gesê hy ondersoek tans die mate van beskerming wat die Pfizer-Covid-19-entstof teen die nuwe B.1.1.529-variant wat vandeesweek in Suid-Afrika opgespoor is, sal verleen.

Die data van die laboratoriumtoetse sal oor twee weke, of moontlik selfs vroeër, beskikbaar wees.

Volgens BioNTech sal dié data meer inligting verskaf oor die kwessie of die entstof aangepas moet word, veral indien die variant wêreldwyd versprei. Pfizer en BioNTech het maande gelede reeds stappe gedoen om die entstof binne ses weke te kan aanpas en voorraad binne 100 dae te versend ingeval nuwe variante aanpassings noodsaak.

Die ontdekking van die nuwe variant deur wetenskaplikes in Suid-Afrika het wêreldwye kommer laat ontstaan.

Maroela Media het Donderdag berig wetenskaplikes waarsku dat die B.1.1.529-variant, wat minstens 32 mutasies bevat, verdere virusgolwe kan aandryf deur die liggaam se verdediging daarteen te ontduik. Dít kan egter ook net ʼn klein, ongewone groepering wees wat nie maklik oordraagbaar is nie.

Dié variant verskil van die vorige oorheersende variant deurdat sekere mutasies glo in die stekelproteïen geleë is, dié deel van die koronavirus wat die meeste entstowwe inspan om die immuunstelsel teen Covid-19 te versterk en as’t ware te “bewapen”.

Dié variant is waarskynlik al in die meeste provinsies in Suid-Afrika aanwesig. Dit is egter nog onduidelik of dié variant dalk die vierde Covid-19-golf in Suid-Afrika sal voortdryf.

Die nuwe variant is onlangs eerste in Botswana opgemerk en later in Suid-Afrika. Een geval is in Hongkong in China aangemeld – glo by ʼn persoon wat van Suid-Afrika gereis het.

Duitsland, Italië, Israel en Singapoer weier nou ook dat reisigers van onder meer Suid-Afrika hul grense oorsteek weens die B.1.1.529-variant.

Dit blyk egter te laat vir Israel te wees wat ʼn kort ruk gelede bekend gemaak het dat hy nou ook die nuwe variant by ʼn pasiënt opgespoor het. Die betrokke persoon het glo onlangs vanuit Malawi na Israel gereis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Beide die mense wat in Hong Kong die virus het, het twee Pfizer inentings gehad. MM, die persoon uit Afrika het die persoon oorkant die hotel gang aangesteek. Hulle het nou sekerheid dat die ding “airborne” is. Aldus die DM.

Groen Ghoen ·

Sjoe. Ek wonder wat Salomo sou gedoen het? Sterkte en moedhou aan almal in die gasvryheids- en die drankbedryf (die wat nog daar is). Ons bly maar hoop vir die beste. Die alternatief, om moed op te gee, se gevolge is veel erger.

annie ·

Uit bostaande kan afgelei word dat die nuwe variant deur ‘n wakker SA-navorser raakgesien is en dat die nuwe uitgawe nie noodwendig hier ontwikkel het nie; dalk reeds elders te vinde is. Moontlik die oorsaak wees van die nuwe uitbraak in Europa. Dit sal ‘n groot skok wees vir die opstandige betogers. China was ook alweer sy handjies in onskuld as sou die geval daar van elders kom. Die vreemde voorkoms, natuurlik of laboratorium-gedokter? Ons sal wel hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.