Eggenoot vas ná dubbelmoord op vroue in Polokwane  

Die moordtoneel in Polokwane. (Foto: SA Polisie)

Die man van een van die twee vroue wat voorverlede Saterdag in die middestad van Polokwane doodgeskiet is, is Woensdagoggend in hegtenis geneem.

Makoena Mabusela-Leshabane (46) en Tebogo Mphuti (35) is teregstellingswyse doodgeskiet waar hulle in die parkeergebied van Magna Via, ʼn sakesentrum, in ʼn motor gesit het. Hulle het vroeër met ʼn eiendomsagent ooreengekom om daar te ontmoet om na sakepersele te kyk.

Die polisie het toe gesê drie verdagtes, van wie twee gewapen was, het die vroue in die motor genader en op hulle losgebrand. ʼn Vierde verdagte het in ʼn wegkommotor, ʼn rooi Hyundai-sedan, gewag. Ná die skietery het die drie verdagtes na die motor gehardloop, ingespring en weggejaag.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê lede van die polisie se provinsiale ondersoekspan, die opsporingseenheid en Magama Investigators het die vyf verdagtes in ʼn intelligensiegedrewe operasie by verskillende adresse in Ekhuruleni, Elseburg, Katlegong en Germiston aangekeer.

Een van die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Die man van een van die slagoffers – die polisie het nie sy naam bekend gemaak nie – is een van die vyf verdagtes wat aangekeer is. Hy is in die hospitaal in hegtenis geneem nadat hy glo probeer selfmoord pleeg het.

“Die polisie het beslag gelê op die rooi Hyundai Accent wat vermoedelik in die uitvoering van die moorde gebruik is, twee vuurwapens, twee magasyne en 13 patrone tydens die klopjagte wat in die vroeë oggendure gehou is,” het Mojapelo gesê.

Die verdagtes sal benewens die twee aanklagte van moord, ook aangekla word van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Hulle verskyn Maandag in die landdroshof in Polokwane.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiehoof, het die polisie vir die inhegtenisnemings geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Man, party polisiemanne is net SOVEEL meer bekwaam as die oorgroote meerderheid.

Tanja ·

Waar kry al hierdie misdagdigers die vuurwapens en ammunisie onwettig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.