ʼn 39-jarige man is in Galeshewe in Kimberley in die Noord-Kaap in hegtenis geneem in verband met die grusame moord op sy vrou.
“Die polisie in Kagisho het Vrydag die liggaam van ʼn vrou in ʼn vlak graf by Soul City gevind,” het lt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die vrou se liggaam was opgekap en in ʼn sak in ʼn oop stuk veld begrawe.”
Volgens Tawana het die man op 17 April sy vrou as vermis aangemeld by die Kagisho-polisiestasie. Hy het gesê hy het haar op 13 April laas gesien.
“Ons het hom kort ná die vonds gemaak is, in hegtenis geneem. Die inhegtenisneming het gevolg ná ʼn intensiewe soektog in vennootskap met die plaaslike raadslid en Soul City-gemeenskapslede,” het hy bygevoeg.
Die verdagte moet op 3 Mei in die Galeshewe-landdroshof verskyn op aanklag van moord.