Egiptiese monnik, priester bly agter tralies oor moorde by kerk in SA

Die twee mans het Vrydag in verband met die drie moorde in die hof verskyn. (Foto: NVG)

Twee Egiptiese burgers, ʼn monnik en ʼn priester, bly agter tralies nadat hulle glo drie ander priesters in Suid-Afrika vermoor het.

Saeed Basonda (37), ʼn monnik, en Samuel Avamarkos (47), ʼn priester, het Vrydag in die Cullinan-landdroshof op drie aanklagte van moord verskyn.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle verlede Dinsdag in die vroeë oggendure drie priesters by die perseel van die Kopties-Ortodokse Kerk van Suid-Afrika, waar hulle almal gewoon het, doodgesteek het, sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

ʼn Werker het die slagoffers, wat die NVG geïdentifiseer het as Takla Elsmwaeili Ayoub Attia Mossoud Mouss, Marcos Shawkat Nasry Morid Wanas Mina en Marcos Mofed Tawfek Isaac Youstos, se liggame ontdek toe hy vir diens aangemeld het.

“Die werker het die diaken van die kerk ingelig en die polisie is ontbied,” sê Mahanjana.

“Nadat hulle ondervra is, is die twee in hegtenis geneem en aangehou.”

Die saak teen hulle is tot volgende week vir ʼn moontlike borgtogaansoek uitgestel. Die NVG beoog om só ʼn aansoek teen te staan.

Egipte se departement van buitelandse sake het verlede week gesê hy sal die ondersoeke na die moord op die drie monnike noukeurig saam met die land se ambassade in Pretoria dophou. Hy het ook sy meegevoel met die families van die oorledenes betuig.

Die kerk het ook sy “smart oor die tragiese voorval” te kenne gegee.

Verskeie geestelikes van die kerk het die vroeëre hofverskyning van die vermeende aanvallers bygewoon.

The South African Coptic Orthodox Church members led by priests, deacons, tasoni in attendance to first court appearance…

Posted by Coptic Orthodox Church, Archdiocese of South Africa on Thursday, March 14, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.