Egpaar, bejaarde op plaas oorval

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

ʼn Egpaar en ʼn bejaarde vrou is Vrydag helder oordag op hul plaas in die Ohrigstad-omgewing in Limpopo deur vyf mans oorval.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die vyf mans net voor 15:00 ʼn 68-jarige man oorval net toe hy op die plaas aangekom het. Hulle het hom in die huis ingedwing en vasgebind.

“Die man se 58-jarige vrou en 80-jarige skoonma het net daarna op die plaas aangekom en hulle is ook deur die verdagtes vasgebind. Hulle het die drie aangerand terwyl hulle die kluis se sleutels geëis het,” bevestig Mojapelo.

Die aanvallers het die egpaar se trouringe en ander items, waaronder ʼn skootrekenaar, selfone, verkykers, kredietkaarte, paspoorte en ʼn onbekende bedrag kontant in buitelandse valuta gebuit.

“Die verdagtes het daarna in die egpaar se Ford Ranger-bakkie op die vlug geslaan.”

Die slagoffers kon daarin slaag om een van hul werknemers van die voorval in kennis gestel. Dié het onmiddellik die polisie na die plaas ontbied.

“ʼn Gesamentlike soektog deur die plaaslike polisie, plaaswagte asook private veiligheid- en opsporingsmaatskappye het daartoe gelei dat die gesteelde bakkie enkele kilometer buite Burgersfort opgemerk is. Die verdagtes was egter nêrens in sig nie en moes te voet gevlug het.”

Die gesteelde items is nog nie teruggevind nie.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die samewerking tussen die polisie en privaatsektor geloof.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan die ondersoekbeampte, sers. Justice Mantshwane, by 082 449 0198 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Weereens swak polisie diens, bring terug die kommamdoes soos die 32 Balteljon.

casper ·

Nog ‘n dag =- nog ‘n plaas aanval — Hierdie is ‘n regerings ondersteunde poging om blankes van plase af te dryf !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.