Twee by hotel naby Ohrigstad vermoor

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Ohrigstad in Limpopo het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na die verdagtes wat ʼn man en ‘n vrou by ʼn hotel in die omgewing van die Eggogrotte net buite Ohrigstad vermoor het.

Die voorval het Saterdag omstreeks 13:30 plaasgevind.

“Die polisie is na die toneel ontbied. Beamptes het op die liggame van twee persone, onderskeidelik 77 en 73 jaar oud, afgekom,” sê kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie. Die twee persone is vermoor en aan die brand gesteek.

Hulle is in twee verskillende geboue aangetref.

Maroela Media verneem die slagoffers was Hennie Claassen en Anneke Claassen, eienaar van die hotel.

“Volgens die inligting wat ontvang is, het ʼn man met ʼn klapmus van die toneel gevlug,” het Ledwaba bygevoeg.

Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die gewelddadige, sinnelose aanval ten sterkste veroordeel en versoek enigiemand met inligting om met die polisie kontak te maak.

Florence Radzilani, provinsiale LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het die polisie gemaan om hul ondersoek na die “gevoellose moorde” te bespoedig en die oortreder aan te keer.

Sy benadruk dat “die blote feit dat iemand die verdagte opgemerk het, behoort die ondersoek vir die polisie te vergemaklik”.

Sy het ook haar skok uitgespreek hoe bejaarde, weerlose mense op só skokkende manier vermoor en gebrand kon word.

Radzilani doen ʼn beroep op lede van die publiek om die polisie by te staan met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lakemalawi ·

Sjoe, dis baie erg. Ek wonder of dit nou dalk weer withcraft related is?

Amelia ·

AS hul gevang word wys gesigte Sit mos altyd hoedie op dn die mos nou skaam maar as hul mense vermoor geen skaamte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.