
(Argieffoto: Lorraine Claasen)
Die Oos-Kaapse polisie het die aanval op ʼn egpaar van Ugie in die Oos-Kaap op hulle plaas ten sterkste veroordeel.
Die egpaar, onderskeidelik 68 en 67 jaar oud, is Woensdag omstreeks 20:45 op hulle plaas in die Gubenxevallei, naby Ugie, deur drie aanvallers oorrompel, het brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, gesê.
Die man is glo oorval toe hy buite die huis ʼn draai gaan loop het. “Een van die verdagtes was gewapen en het die ouerige man terug in die huis gedwing, waar hulle bankkaarte by hom en sy vrou geëis het.”
Die aanvallers het die paartjie gedwing om saam met hulle dorp toe te ry, waar ʼn bedrag geld uit hulle bankrekening onttrek is en hulle daarna teruggeneem is na die plaas.
“Terug by die huis het die verdagtes die man, maar nie sy vrou nie, vasgebind en hulle in die slaapkamer toegesluit. Hulle het glo petrol in die huis uitgegooi en dit aan die brand probeer steek,” het Kinana gesê.
Die aanvallers het in ʼn voertuig gevlug en is steeds soek.
Die vrou het haar man help loskry en hulle het uit die huis gevlug en hulp ontbied, het Kinana gesê.
Volgens Kinana is die egpaar na ʼn hospitaal vir mediese behandeling geneem. ʼn Saak van huisrooftog word ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Ondersoek huisroof ipv plaasaanval??
Huisroof !!! Nogal né. Wat van aanranding en poging tot brandstigting.
Toegesluit in die huis wat hulle probeer afbrand….wat van poging tot moord?
Die oumense is in die slaapkamer vasgebind en toegesluit, daarna is petrol in die huis gegooi en hulle het probeer om dit aan die brand te steek. Poging tot moord! Uit en klaar!
Huisroof?????? So as ek iemand se intree en huis met hulle aan die brand steek is dit huisroof. Lekker in SA. As hulle gevang word net n waarskuwing?