Egpaar gevonnis oor 9 diere in een hok

Foto: Verskaf.

ʼn Tradisionele geneser en haar man is verlede week in die Bloemfontein-landdroshof gevonnis vir die onwettige aanhouding van wilde diere.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), het gesê Pauline Tukula (64) het tydens die NDBV se besoek aan die huis in Kabanestraat in Bochabela vir beamptes sertifikate gewys om aan te dui dat sy ʼn gekwalifiseerde tradisionele geneser is.

Meyer het gesê die NDBV is egter nie van stryk gebring deur die sertifikate nie en het op ʼn blouapie en agt skilpaaie in een hok op die erf afgekom.

“Tydens ons besoek was daar geen kos of water beskikbaar vir die arme diere nie. Die blouapie se hok was heeltemal onaanvaarbaar. Die hok was hopeloos te klein en los drade het uitgesteek wat die apie erg kon beseer. Daar was ook nie genoeg omgewing-stimulerende aktiwiteite vir die apie in die hok nie. Daar was skaars plek waar die apie behoorlik kon sit. In dieselfde hok was daar ook agt skilpaaie. Die een skilpad het in ʼn skottel op sy rug gelê en kon glad nie uit die skottel kom nie,” het Meyer gesê.

Volgens Meyer het Tukula by navraag bevestig dat sy die diere tydens tradisionele rituele gebruik.

Daar is beslag gelê op al die diere. “Die diere is na ʼn veearts geneem en daar is vasgestel die apie se slagtande is uitgetrek. Al die diere was ook ondervoed en ontwater.”

Tukula en haar man, Tshidiso, het die afgelope Donderdag in die hof verskyn voor landdros Johani Gouws. Die egpaar het skuld erken op aanklagte dat hul die diere onwettig aanhou.

Pauline is gevonnis tot ʼn boete van R6 000 of ses maande tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is en Tshidiso is gevonnis tot ʼn boete van R6 000 of ses maande tronkstraf waarvan R4 000 of vier maande tronkstraf vir vyf jaar opgeskort is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die vonnisse is opgelê op voorwaarde dat hul nie weer skuldig bevind word aan oortredings van sekere afdelings van die natuurbewaringsordonnansie nie. Shuping het gesê in terme van die natuurbewaringsordonnansie neem die provinsiale owerhede nou eienaarskap van die blouapie.

Meyer sê die NDBV sal geen dieremishandeling duld nie al het die oortreder hoeveel sertifikate. “Ons sal altyd opstaan vir diere en vir hulle ʼn stem wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ampie ·

Dieremishandeling is ‘n baie algemene praktyk in Afrika. Daar is duisende sulke gevalle in SA. Twee onlangse berugte gevalle is die polisieperde in Potch en Thandi Modise van die ANC se varkplaas. Terloops, is sy ooit daarvoor vervolg?

Elsabe ·

Dis wreed. Arme diere. Sy sal seker maar net weer diere aanhou.

Wim ·

Dbv Bloemfontein,Reinette. Julle doen uitmuntende werk vir ons diere. Ons sien dit raak.

Daan ·

Hierdie sogenaamde tradisionele genesers is krimenele, hulle smokkel met en maak bedreigde spesie diere dood, en sal en het al mense doodgemaak om hul mengsels ens te maak. Hulle hoort verban te word en die tronk gestop te word. Diabolical!

jakes ·

Weereens maar net n bewys dat SA n derdewereldland is waar kennis en opvoeding op groot skaal kort kom. Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Blondie ·

My man se sus is ‘n volunteer by ‘n DBV in Pretoria en die goed wat sy my al vertel het, wat sy aanskou het, is om van siek te word. Dit het my laat besef dat as jy so wreed kan wees teenoor diere is daar geen kans dat jy goed kan wees vir jou mede mens nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.