Egpaar gevonnis oor bedrog met tweedehandse motors

Argieffoto.

ʼn Egpaar wat saam ʼn tweedehandse motoronderneming bestuur het, is Dinsdag in die Bellville-handelshof in Kaapstad gevonnis nadat hulle hul kliënte uit derduisende rande bedrieg het.

Erens Johannes Uys en Crische Uys is in Augustus 2015 deur die Valke vasgetrek.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê die egpaar het in hul motoronderneming tweedehandse voertuie aangekoop om dan weer te verkoop.

“Hulle het vooraf groot deposito’s van hul kliënte geëis,” sê Hani. “Minstens drie voornemende kopers het deposito’s vir dieselfde voertuig betaal. Uiteindelik sou nie een van dié kliënte die betrokke voertuig of hul geld terugkry nie.”

Die egpaar het op só ʼn manier meer as R600 000 van hul kliënte gesteel.

Die klagte teen die egpaar sluit in die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA), bedrog, diefstal, vervalsing, geldwassery en rampokkery.

Crische is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is. Sy is ook ʼn boete van R20 000 opgelê wat teen volgende Woensdag betaal moet word. Indien sy versuim om dit te doen, moet sy ʼn bykomende ses maande direkte tronkstraf uitdien. Erens is tot tien jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Die hof het ook die egpaar beveel om ʼn bedrag van R623 000 aan die kliënte wat hulle bedrieg het, terug te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Wanneer gaan sommige mense besef dat bedrog jou nêrens bring nie, behalwe tot in die tronk en met ‘n kriminele rekord vir die res van jou lewe. Gierigheid is ‘n vieslike karaktertrek!

Menan

Liewe Hof, die paartjie is in 2015 vasgetrek. Dis nou 2021. Dink jy hulle het nog enige kleingeld oor van die R623,000.00 ???? Hellloooo???

Mads

Wonder HOE gaan hulle daai geld terug betaal? Hoop daar is bates om te verkoop!
Ai mense : crime doesn’t pay!!!