Egpaar gevonnis vir bedrog van R280 miljoen

hof-hamer

Argieffoto.

Graeme Minne en sy vrou, Caroline, is Donderdag gevonnis nadat hulle skuldig gevind is aan bedrog van R280 miljoen.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Graeme (54) is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Caroline (52) is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis. Sy is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op die voorwaarde dat sy nie in dié tyd weer aan bedrog skuldig bevind word nie.

Volgens Ntabazalila het Graeme reeds aangedui dat hy aansoek gedoen om verlof om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer. Graeme het geld van verskeie beleggers ontvang en hulle 4% rente per maand oor 12 maande of opbrengste van tot 65% in 12 maande beloof. Teen die einde van die termyn sou die belegger die kapitaalbelegging terugkry. Die geld is in ʼn Absa-rekening wat aan Caroline behoort het inbetaal.

Graeme het tussen 2002 en 2009 ongeveer 735 kliënte gehad en sowat R280 miljoen is in sy vrou se rekening inbetaal. ʼn Werknemer van Absa het agterdogtig begin raak waarna die Reserwebank ʼn ondersoek deur Deloitte & Touche laat doen het. Dit het aan die lig gekom dat Graeme ʼn minimale bedrag in buitelandse valuta verhandel het en ʼn verlies gely het. Hy het die grootste gedeelte van die geld gebruik om sy familie se luukse leefstyl te onderhou en om beleggers die rente te betaal wat beloof is.

Absa het die bankrekening teen einde November 2009 gevries. Graeme het teen die tyd nie genoeg geld gehad om beleggers te betaal nie. Die egpaar is kort daarna in hegtenis geneem.

Ntabazalila het gesê die NVG verwelkom die vonnisse en het ʼn beroep op voornemende beleggers gedoen om seker te maak in watter skemas hulle belê.

Brig. Neil Olivier, waarnemende Wes-Kaapse hoof van die Valke, het ook die vonnis verwelkom. “Dit moet ʼn les wees vir diegene wat valse skemas bedryf. Die publiek moet wegbly van skemas wat hoë en onrealistiese opbrengste beloof,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

MM ·

Hoop dit is n les vir almal daar buite wat ander mense gebruik vir hulle eie gewin. Moeg vir valse mense.

Estelle ·

Drie jaar korrektiewe toesig vir die vrou? Nie sleg vir R280 miljoen nie.

E.K. ·

R280 miljoen vir luukse lewenstyl? Liewe hemel dan moes hul OMTRENT luuks gelewe het om soveel uit te mors.

Voorlaaier ·

En i kennis van my kry 5 jaar vir R48000 se bedrog?……Waarvan hy die helfte moes uitdien…….. Ek se weer. Daar is 2 regstelsels in die land.1 vir die armes en 1 vir die rykes..

Anoniem ·

Ek kan nie glo sy kry net 3 jaar korrektiewe toesig nie! Wat van die mense wat hul lewe verloor het agv hul pensioengeld wat gesteel is. Haar kinders is selfversorgend en uit die huis. 3 jaar korrektiewe toesig is pateties. Sy moes gesit het saam met hom. Hul het nie een oomblik omgegee om ander se geld uit te mors nie, want hul leefstyl het absoluut getoon, hul het geen gewete nie. Jammer ek was nie die regter nie. Sy 15 jaar verdien hy, maar nou gaan hy vir vonnisverligting aansoek doen.

Hannah ·

Ek sal dit NOOIT verstaan nie… hoe mense hierdie mense kan vertrou en dink dat hulle vir jou meer rente kan betaal as wat die banke of ‘n groot gevestigde instansie kan doen. Verder waarsku die Skrif jou daarteen:

SPREUKE 28 : 22 ‘n Inhalige mens wil gou ryk word; hy besef nie dat daar vir hom gebrek wag nie.

SPREUKE 13:11
Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.

Alida ·

Ai Hannah so bly jy haal Spreuke aan. Ek kan daai wyse boek in die bybel oor en oor lees.

Armg@t ·

Ek sou hulle lewenslank tronk toe stuur net omdat hulle sulke snobs was en altyd neergekyk het op minder bevoorregtes, net om uit te vind dat daai verhewe houdings onregmatig verkry is.
Ek dink die mense wat ingedoen is deur die lot vals royalty moet siviele sake maak teen hulle of vra vir swaarder straf. Hule kinders is na die beste skole en sukkel nie vandag met studie skuld of vervoer of verblyf nie maar my arme kind moet deur UNISA studeer en werk toe loop omdat ek ook deur sulke gemors ingedoen is, en toe my geld op is toe is ek ook nie meer goed genoeg in die gemeenskap nie.
Hoop daar le nog baie swarigheid vir julle voor!!!

Tammy ·

Appelleer teen die sagte vonnisse!!! dis n skande , mense se lewens is verwoes. Ja, soms wonder n mens oor reg en geregtigheid in hierdie land. Dit is net van toepassing op sekere mense, almal word beslis nie dieselfde behandel nie.

Carol ·

Ek stem, almal wat geld verloor het, moet appelleer teen die madam se vonnis. Sy gaan tien teen een net voort met haar luukse lewe. Gmf…..opgeskorte vonnis en ons belastinggeld om haar vie 3 jaar te “babysit”.

Carol ·

Ek stem, almal wat geld verloor het, moet appelleer teen die madam se vonnis. Sy gaan tien teen een net voort met haar luukse lewe. Gmf…..opgeskorte vonnis en ons belastinggeld om haar vir 3 jaar te “babysit”.

Alida ·

Ai Hannah so bly jy haal Spreuke aan. Ek kan daai wyse boek in die bybel oor en oor lees.

Herman Goosen ·

Geen wonder mense steel geld nie. Terwyl jy in die trunk sit kan jy nog rente ook kry. Ek reken die vrou se lewens verwagting is nog ten minste tien jaar. Dit kom neer op ‘n baie gemaklike lewenstyl en drie jaar tronkstraf is ‘n baie klein prys om te betaal vir 280 miljoen rand.

Wie op aarde het uitgewerk dat 280 miljoen rand net drie jaar tronkstraf werd is???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.