Egpaar had glo huweliksprobleme voor vrou se moord

Vriende en familie van die Packhams verlaat die Wynberg-hof (5 Maart 2018). Foto: Henk Kruger / ANA

Robin Packham (57) en sy vrou, Gill (57), het glo huweliksprobleme gehad voordat Gill se liggaam in Februarie vanjaar in die kattebak van haar brandende motor aangetref is.

Dít is volgens die klagstaat wat vandeesweek op Packham bedien is wat teregstaan vir die moord op sy vrou.

Gill is op 22 Februarie deur ʼn familielid by die Dieprivier-polisie in Kaapstad as vermis aangemeld. Die polisie het later die aand op ʼn brandende BMW by die Dieprivier-treinstasie afgekom. Nadat die vlamme geblus is, is die gebrande liggaam van ʼn vrou in die kattebak van die motor aangetref.

Die liggaam is later as Gill s’n geïdentifiseer. Sy is die laaste keer lewend gesien toe sy daardie oggend in haar groen BMW haar huis in Constantia verlaat het op pad na die Springfield Convent School in Wynberg waar sy gewerk het.

Gill Packham. Foto: Via Facebook

Luidens die klagstaat het die Packham-egpaar saam in Constantia gewoon, maar was dit vir maande voor Gill se dood glo duidelik dat hulle huweliksprobleme ervaar het. Die egpaar het twee volwasse kinders wat teen daardie tyd reeds uit die huis was.

Volgens die staat is Gill se motor die dag wat sy vermis geraak het in die verkeer opgemerk met ʼn man agter die stuur. ʼn Ooggetuie het ook glo gesien hoe Packham van die Dieprivier-treinstasie af wegry nadat Gill se motor daar aan die brand gesteek is.

Die staat voer aan Packham het Gill vermoor deur haar met ʼn stomp voorwerp te slaan en dat hy probeer het om die misdaad weg te steek deur die motor met haar liggaam binne-in aan die brand te steek. Die staat voer ook aan dat Packham skuldig is aan dwarsboming van die gereg omdat hy glo vals inligting aan die polisie verskaf het tydens hul ondersoek in ʼn poging om hulle te mislei.

Packham sal op 26 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn vir voorvonnisverrigtinge.

Lees die vorige berigte oor Gill Packham op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa B ·

Dis vreeslik. Dit klink soos ‘n TV storie. Genade tog – as julle nie gelukkig is nie, los mekaar en gaan aan met julle lewens.

Corne ·

Meeste mans se koppies raas veraldie wat grens toe was. Geldgierig, wil nie deel met n egskeiding of kan nie aanvaar vrou wil nie meer sy onaangename persoonlikheid aanvaar nie. Sterkte vir jou Mnr. Jy gaan dit nodig kry.

Robert ·

Corne: moet nie veralgemeen nie. ek glo nie die moord het enigiets daarmee uit te waai nie. as jy iets wil sê maak dit net sinlvol of bly liewers stil. die meeste mans wat grens toe was is gedwing want dit was wet.

Denise ·

Nou was hy die eerste man met huweliks probleme? Wat hy gedoen het is wreed jy het n vrou wat jou vertrou het met haar lewe vermoor vir my is dit baie hartseer so n pragtige vrou !!!

AH ·

Ek wens ‘n regter wil ‘n slag ‘n voorbeeld maak van wat met ‘n man gebeur wat sy vrou/lewensmaat vermoor! Dit moet ‘n vonnis vir iets soos 120 jaar sonder die opsien van parool te wees!! Mans moet kan sien dit werk nie om te moor nie, skei liewer en gun haar/jouself ‘n kans om ‘n nuwe lewe te bou sonder mekaar……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.