Egpaar in aftree-oord oorval

Argieffoto

ʼn Bejaarde egpaar van Jeffreysbaai is Maandag in die vroeë oggendure in hul huis in ʼn aftree-oord deur twee gewapende inbrekers oorval.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes het omstreeks 02:00 deur ʼn oop venster toegang tot die huis in die aftree-oord in Wonderboomsingel verkry. Dit is nog nie duidelik hoe die verdagtes toegang tot die aftree-oord verkry het nie.

“Hulle het die egpaar, albei in hul 70’s, oorval terwyl hulle geslaap het. Die twee verdagtes het die egpaar met messe gedreig, waarna hulle die huis deursoek het. Hulle het met juweliersware, selfone, ʼn televisiestel en ʼn bedrag kontant op die vlug geslaan. Die egpaar het die bure in kennis gestel en die polisie is ontbied,” het Swart gesê.

Sy het gesê die polisie is tans besig om verskeie leidrade op te volg om die verdagtes vas te trek. Die egpaar is ongedeerd na die voorval.

Die polisie het ʼn beroep op handelaars van tweedehandse goedere gedoen om op die uitkyk te wees vir enige verdagte persone wat items soos juweliersware, selfone of elektroniese toerusting probeer verkoop en gevra dat dit onmiddellik by die naaste polisiestasie aangemeld word.

Die Jeffreysbaai-polisie het intussen onderneem om hul patrollerings in die gebied rondom die aftree-oord op te skerp en het plaaslike veiligheidsmaatskappye versoek om dieselfde te doen.

ʼn Saak van huisbraak word ondersoek. Enigiemand met meer inligting word versoek om ao. Eunice Potgieter by 042 200 6600 of die Jeffreysbaai-polisie by 042 200 6800 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AL ·

Dankie Here hulle is ongedeerd!
Ek sien vanoggend 6 jong verwaarloosde straatseuns wie veronderstel is om in die skool te wees, wie in straat ronddrentel.
Die hartseer is dat hul nie n toekoms gaan hê waarin hul versorg word en opgevoed word nie. Hul het net een uitweg…. Misdaad.

Johan ·

Dit is vreemd dat ‘n saak van huisbraak ondersoek word. Die egpaar is met messe aangehou en gedreig. Dit is niks anders as gewapende roof nie. Dit is net nog ‘n voorbeeld hoe misdaadsyfers gemanipuleer word.

Dermond Dekker ·

Daar is ‘n antwoord om sulke gebeure te keer – Sekuriteits kompleks in Pretoria het ge-installeer met fantasiese resultate – geen voorvalle vir afgelope 6 maande – die woord het versprei – alle skelms weet nou
Sterkte aan julle op Jeffrey’s nie lekker ondervinding nie – dit bly altyd in onderbewussyn

SARIE VAN HEERDEN ·

HI DERMOND DEKKER.
Jy noem in jou kommentaar hierbo dat ‘n sekuriteitskompleks in Pretoria “geinstalleer” het met fantastiese resultate maar jy noem nie WAT geinstalleer is nie. Wil jy ons Maroelalesers nie ook inlig nie want ons gaan gebuk onder alles wat ons niemand anders gun nie. ASSEBLIEF

Skim ·

Verdagtes kry toegang tot ‘n aftree-oord of sekuriteitsoord deur die KONTAKTE wat hulle met die sekuriteitspersoneel of werkers op die perseel het, so maklik soos dit. Dit is ‘n VALSE sekuriteit wat mense in ‘n aftree-oord en sekuriteitsoord het. WOLF is skaapwagter gemaak en hulle sit en wag soos skape met oop deure en vensters om geslag te word. WAKEY WAKEY!

Joe Hall ·

Mense wil nie aanvaar of leer dat die werkers wat vrye toegang tot hul wonings het en alle inligting aan die rowers verskaf, die wortel van alle kwaad is nie. Die ‘sekuriteitsoorde’ is selfs meer onveilig as ‘n woning in ‘n “oop” voorstad. In laasgenoemde gevaL mens selfs sonder sulke werkers oor die weg kom.

o ·

Ek sidder as ek aan die ‘sekuriteit’ van die aftree-oord dink waar van my aangetroude familie woon. Die plek is ‘n ope uitnodiging vir kriminele.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.