Egpaar in begraafplaas vir moord vasgetrek

misdaadtoneel

Argieffoto

ʼn Egpaar is in hegtenis geneem vir die gru-moord op Wilfred Edward Ernsting (54) wat Sondag in ʼn plas bloed in sy huis in Hennenman in die Vrystaat aangetref is.

Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê Ernsting se liggaam is omstreeks 18:00 in ʼn plas bloed gevind met ʼn laken oor die liggaam getrek. Die polisie vermoed hy is moontlik verwurg, maar wag op die uitslae van die nadoodse ondersoek om sy presiese oorsaak van dood te bevestig.

“Mnr. Ernsting se buurman het onraad vermoed toe hy ʼn onbekende man en vrou met sy motor sien ry het. Hy het na Ernsting se huis gegaan om ondersoek in te stel en gevind dat al die deure van die huis gesluit was. Slegs een van die slaapkamervensters was effens oop,” het Mokhuane gesê.

Mokhuoane het gesê die buurman kon deur die venster Ernsting se liggaam op die vloer sien lê en hy het die polisie ontbied. “Ernsting se hande en bene was vasgebind en daar was bloed oor die hele slaapkamer. Hy is op die toneel dood verklaar en sy naasbestaandes is in kennis gestel.”

Volgens Mokhuoane het die Hennenman-polisie in samewerking met die Welkom honde-eenheid dadelik na die motor begin soek. Die polisie se ondersoek het aangedui dat die voertuig laas naby Phomolong buite Hennenman gesien is en die voertuig is in daardie gebied opgespoor.

“Polisiehonde is gebruik om die verdagtes se spore van die voertuig te volg en die honde het polisiebeamptes na ʼn nabygeleë begraafplaas gelei. ʼn Man (52) en sy vrou (28) is by ʼn graf gevind en in hegtenis geneem,” het sy gesê.

Die honde het ook twee van Ernsting se identiteitsdokumente gevind waar dit in die begraafplaas begrawe is. Die motor se sleutels is in die bosse gevind. Volgens Mokhuoane blyk dit asof daar nie iets anders uit Ernsting se huis geroof is nie.

Die verdagtes sal binnekort in die Hennenman-landdroshof op aanklag van moord en motordiefstal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kiepie ·

Wys jou maar net weer hoe belangrik oplettende en betrokke bure is. As dit nie vir die buurman was nie was die kanse baie skraal dat hulle so vinnig opgespoor en vasgetrek is. Die Polisie kan nie 24uur orals kyk nie, ons het ‘n verantwoordelikheid om hul oë en ore te wees.

wilma ·

Baie dankie buurman vi jou goeie buurmanskap. Polisie thumbs up vir almal betrokke by inhegtenisneming van verdagtes?

linda ·

as niks gevat of gesteel is behalwe die kar wat op aarde het die man tog gedoen?
daar bly soveel ou mensies op daai dorp hulle gaan seker almal afmaai

siestog dis vreeslik hoop daai 2 dooi op pad selle toe

conrad ·

Ek vermoed dalk omdat dit oor die vrou gegaan het, laas week op die foon het hy my vertel van sy nuwe jong girlfriend..

hannelie ·

Ai, hy is in ‘n plas bloed gevind (volgens die Polisie en die berig), maar die Polisie vermoed hy is moontlik verwurg. Kom ons wag maar vir die na-doodse ondersoek om afgehandel te word.

Gelukkig kon die Polisie die verdagtes vinnig vastrek. Ek hoop net dat reg en geregtigheid hier sal geskied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.