Egpaar in hof oor beweerde bedrog

Chantel en Dirk Lötter (Foto: Verskaf)

’n Vrystaatse egpaar het Maandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn op aanklag van bedrog en vervalsing.

Dirk Lötter (39), eienaar van Dirk Lötter Transport, en sy vrou, Chantel Lötter (40), het hulself vroeër die dag aan die Valke oorgegee en het daarna vlugtig in die hof verskyn. Hulle is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat en sal na verwagting weer op 19 Mei in die hof verskyn.

Volgens ao. Fikiswa Matoti, woordvoerder van die Valke, het die egpaar glo in Mei 2018 ’n ander vervoermaatskappy, Sebete Transport, geregistreer. Die maatskappy is na bewering onder die naam van die klaer in die saak – wat by Dirk Lötter Transport gewerk het – as direkteur van die nuwe maatskappy geregistreer. Dit is na bewering sonder die klaer se toestemming gedoen.

“Die klaer is glo beveel om dokumente te onderteken sonder om die kans te kry om die dokumente deur te lees en te verstaan,” sê Matoti.

Daar word aangevoer dat, nadat die klaer ontdek het dat hy as direkteur van die maatskappy geregistreer is, hy sy werkgewer oor sy posisie en rol in die nuwe maatskappy uitgevra het. “Die klaer is glo later ontslaan omdat hy sy pos by Sebete Transport bevraagteken het,” sê Matoti.

“Verdere inligting het aan die lig gebring dat sy [die klaer in die saak se] handtekening vervals is asof hy persoonlik uit die maatskappy bedank het.”

Die saak is aan die Valke in Bloemfontein oorhandig vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Doompie Daan ·

Kan die rubriek opstellers asb in die vervolg eerder rapporteer dat Borgtog van Rxxx is toegestaan aan die beskuldigdes as dat hulle op borgtog van Rxxx vrygelaat is

Pietie ·

Slim is toe tog nie so slim nie nê. Ek kry hulle eintlik jammer. Geld is die grootste euwel nog.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tye is rof. Mens moet ander planne beraam.

Johan ·

Soos om ‘n politikus te word voor jy tot die stap oorgaan of wat? Want met ál die bedrog waarvan ons hoor by hulle word bittet min aangekla.

Lillian ·

Wonder wat hul duister planne was, want duidelik wou hulle die werknemer gebruik as ‘n front

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.