Egpaar in hof vir Oranjeville-moord

Johannes van Vuuren (80) en sy dogter Dorothia van Staden (58) (Foto: Sanet Henderson, Facebook)

’n Egpaar van die Oos-Kaap het Maandag in die hof verskyn vir die moord op Johannes van Vuuren (80) en sy dogter Dorothia van Staden (58) van Oranjeville in die Vrystaat.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het Henriette Posthumus (36) en haar man, Hannes (34), Maandag vlugtig in die landdroshof op Heilbron in die Vrystaat verskyn in verband met die moord op die pa en dogter.

Hulle staan ook tereg op ’n aanklag van huisroof.

Maroela Media het vroeër berig Van Vuuren en Van Staden se liggame is verlede Donderdagaand by hul huis in Markstraat, Oranjeville, aangetref.

Van Vuuren se liggaam is in die binnehof met verskeie steekwonde gevind en Van Staden is dood in die motorhuis aangetref. Sy het verskeie kop- en ander beserings opgedoen.

Die huis is geplunder en verskeie huishoudelike items, waaronder televisiestelle en ʼn rekenaar, word vermis.

Die Posthumus-egpaar is dieselfde aand in Gqeberha (Port Elizabeth) in hegtenis geneem.

Die twee sal na verwagting weer op 29 Oktober in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Daar is ‘n spesiale plekkie vir mense wat hulle ouers vermoor, net soos vir die ouers wat hulle kinders vermoor.

ESTELLE

My hart wil breek as ek die ou oom sien …. hoe op aarde doen mens dit?!!

Marcello

OMG !!! Hoe vermoor jy iemand, en mense (veral ou mense) wat so weerloos is. Dit gaan my verstand te bowe …… As hulle dan moet roof, bind die mense vas en sluit hulle toe in ‘n kamer, maar hoekom iemand vermoor vir sy besittings.

AmY

Hoe vermoor jy jou eie ouers?
Ja, ek het ook in ‘n baie streng huis groot geword en is baie keer bitter onregverdig behandel.
Maar my ouers vermoor? Nooit!!!

johanf

Geen woorde, duiwels…..!!