Egpaar in huis aangeval, aangerand

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Egpaar is Woensdag vroegoggend in hul huis in Welkom in die Vrystaat deur ’n inbreker oorrompel en aangerand.

“Die skok van die hele voorval het nog nie by my ingesink nie. Ek het nog nie gaan stilsit en dink oor wat als gebeur het nie,” vertel Neels van den Heever (55).

Hy en sy vrou, Cornel, het Woensdag ná 04:00 wakker geword toe hulle hul hond in die huis hoor grom het.

“Ons honde buitekant was doodstil. Dit was vreemd vir my, want hulle is gewoonlik kwaai en sal blaf wanneer hulle iets verdags opmerk,” vertel Neels.

Die egpaar se seun en sy maatjie het die aand voor die televisie in die sitkamer geslaap.

Neels vertel die inbreker het blykbaar vir hul seun en sy maatjie gesê hulle moet stil lê, dan sal hulle nie seerkry nie. “Gelukkig het hulle kopgehou, geluister en nie geroer nie,” vertel Neels.

Neels sê hy het uit hul slaapkamer gegaan om te gaan kyk wat aangaan.

“Toe ek in die gang inloop, staan die man skielik voor my,” vertel hy.

Neels sê die man het hom drie keer met ’n stuk yster teen die voorkop geslaan.

“Ek het vir ’n rukkie uitgepass gelê. Die rower het in dié tyd in ons kamer ingegaan en my vrou ook met die yster aangerand.” Volgens Neels is Cornel met die yster teen haar regteroor geslaan.

Die egpaar kon dit regkry om die paniekknoppie te druk om alarm te maak. Die inbreker is toe vort met ’n handsak en selfone. Neels sê sover lyk dit nie asof groot besittings uit die huis gesteel is nie.

“Toe ek bykom, was die man weg. Ek het net my vrou vanuit die kamer hoor sê dat sy seer het,” vertel hy.

Neels het ’n vriendin wat ’n paramedikus by ER24 is, gebel. Die egpaar is dadelik met ’n ambulans na die hospitaal geneem, waar hulle albei steke gekry het.

Cornel moet ook vir ’n skandering gaan om te kyk of daar nie interne skade aan haar regteroor aangerig is nie.

Neels sê hulle het ’n klag by die polisie in Welkom ingedien.

Hy meen inwoners vrees vir hul lewe sedert die buurtwagte nie meer tydens die afsonderingstydperk kan patrolleer nie. “Ons het ’n goeie buurtwag met lede wat altyd op hul pos was. Ons het veilig gevoel as hulle in die omtrek was,” vertel Neels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

En bleskop met die hoed verhoed dat veiligheidsmaatskappye funksioneer, met ‘n bedekte rede; almal weet wat dit is.

Karin ·

Weereens dankie. Hoop julle slaap lekker. Sterkte aan die familie. Wat moet ons meer doen om ons self te beskerm

Frans ·

Dit is absoluut absurd dat buurtwagte nie meer hul diens mag verrig nie terwyl misdadigers hul nie aan enige inperking steur nie.Die regering los ons op ons eie met soos uit die berig blyk met aaklige gevolge.
Sterkte aan die egpaar-mag jul gou herstel.

marius ·

Rampokkers loop die strate vol en die inwoners se reg op beskerming opsetlik vertrap . Howe het geen afskrikking nie en tronke se deure word oopgegooi . Elke dag is daar berigte van polisie misdadigers . Die hool land waar mense banger raak vir die lewe as die dood . Dis die waarheid.

Maria ·

Daar is steeds nie antwoorde waarom veiligheidsmense nie strate mag patrolleer nie. Dit lyk baie aspris en gemeen om te besluit dat hulle onwettig optree.. Hulle loop buite rond met baie afstand tussen mense. Intussen word werkers met taxis vervoer na stasies en taxistaanplekke waar mense kaalvoet en sonder maskers rondloop.

Pampoenboer ·

Dit is tyd dat iemand die mad hatter hof toe vat vir versuiming van sy pligte

AH ·

Die land se wette is daarop gemik om kriminele te help – net hulle regte tel! Dit is ook waarom daar nie patrollies van sekuriteitsmaatskappye mag wees nie asook die “curfew” wat net die wetsgehoorsame burgers in hulle huise hou na 20h00 in die aand… My respek vir Cele, ons regstelsel en selfs ons President het nou “rock bottom” bereik……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.