Egpaar in huis vasgebind, beroof

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Egpaar van Gqeberha (Port Elizabeth) is Saterdagaand in hul huis in Theescombe oorval en vasgebind kort nadat hulle gaste die aand onthaal het en die gaste by die huis weg is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die egpaar is ná afloop van die aand se kuier omstreeks 23:05 in die kombuis deur vier verdagtes oorval. Die verdagtes het toegang tot die huis deur die braai-area verkry. Een van die verdagtes was gewapen met ’n vuurwapen terwyl die ander ’n skroewedraaier en ’n koevoet by hulle gehad het.

Hulle het op kontant en die kluis aangedring.

Die verdagtes het toe die 61-jarige man se hande en voete vasgebind. Sy vrou se hande is met haar voorskoot vasgebind en haar voete met selfoonkoorde.

Die verdagtes het ’n vuurwapen uit die kluis gesteel sowel as kontant, die egpaar se trouringe, horlosies en diamantringe voordat hulle weer deur die braai-area op die vlug geslaan het. Die gesteelde items het ’n beraamde waarde van R145 000.

Volgens Naidu kon die vrou ná die voorval daarin slaag om haarself los te wikkel en hulp op die plaaslike gemeenskapshandradio te ontbied.

Die egpaar is nie in die voorval beseer nie.

Die polisie doen nou ’n beroep op handelaars van tweedehandse juweliersware om hulle te kontak sou iemand probeer om juwele te verkwansel.

Enigiemand met inligting word versoek om sers. Laeeq Weitz by 071 475 1614 of die Walmer-polisie by 041 509 4006 of die misdaadstopnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Bose land. Bly hul is ongedeerd. Hoe regverdig ons die vieslike name aan ons dorpe toegedig. Weier om die anc kaping te erken en te aanvaar terwyl boewe oorhand het en infrastruktuur verval. Kan nie my woede in woorde vervat!!!

Werner

Sal seker nooit leer dat n wapen in die kluis niks beteken nie.Gee hom maar vir die skelms hulle weet wat om daarmee te maak.

Menan

Inside story want hoe weet hulle daar is ‘n kluis?

Debbie

Hoe weet die skelms dat daar n kluis is in die huis om altyd te vra die kluis Moet oop gesluit word

AmY

Ook maar goed dat PE se naam verander is.
Nou kan ons nie meer PE (Port Elizabeth) se naam en misdaad in een sin noem nie.