Egpaar in hul 90’s oorleef saam Covid-19

Iris en Neville saam met hospitaalpersoneel die dag toe hulle ontslaan is. (Foto: Facebook/Netcare N1 City-hospitaal)

ʼn Bejaarde egpaar wat in dieselfde hospitaal vir Covid-19 behandel is en dit oorleef het, is onlangs ontslaan.

Neville Adams (91) is op 16 Augustus opgeneem by die Netcare N1 City-hospitaal in Kaapstad. Hy het egter nie geweet dat sy vrou, Iris Adams (90), ʼn paar dae later ook opgeneem is nie.

“Nie een van hulle het eens besef dat hulle net ʼn kamer van mekaar af is nie, en dat albei in ooreenstemming met Netcare-protokol behandel word nie,” sê dr. Zia Els, dokter by die Netcare N1 City-hospitaal.

“Mnr. Adams was verbaas en opgewonde om te hoor dat sy vrou ook saam met hom opgeneem is en dat sy net langsaan goed herstel en versorg word.”

Die egpaar is op 1 September ontslaan en huis toe gestuur om verder te rus.

“Gegewe hulle gevorderde ouderdom en die feit dat albei onderliggende mediese toestande het – Iris het diabetes en hoë bloeddruk, en Neville het nierprobleme – was ons bekommerd toe hulle opgeneem is,” sê Els.

“Ek is egter verheug om te kan sê dat hulle albei merkwaardig goed gevaar het en steeds by die huis herstel ná hulle saam ontslaan is.”

Iris was veral opgewonde om ontslaan te word. “Ons het nogal ʼn ervaring gehad, maar ons voel nou baie beter,” sê sy. “Die dokters en personeel het ons besonder goed behandel en ons is albei innig dankbaar.”

Die egpaar is met ʼn erewag van hospitaalpersoneel en dokters huis toe gestuur, sê Morné Kielblock, waarnemende hoofbestuurder van die Netcare N1-hospitaal.

“Onder die wakende oog van ons mediese en verpleegspanne het albei senior burgers die virus oorleef,” sê Kielblock. “Dit was vir ons ʼn groot voorreg om so ʼn dapper paartjie te behandel. Dit het die dokters en personeel se moreel ʼn hupstoot gegee om hulle veilig huis toe te stuur.”

Volgens Els is Iris opgeneem met baie soortgelyke simptome as haar man. Albei was aanvanklik van suurstof afhanklik. Neville moes ook die eerste paar dae in die hoësorgeenheid deurbring.

“Die span het minder indringende ventilasietegnieke gebruik, waarop hulle albei goed gereageer het,” sê Els.

“Die spanne het deur die loop van die pandemie dié tegniek gebruik en uitstekende resultate daarmee behaal.”

Hoewel die aantal Covid-19-verwante gevalle by die hospitaal verminder het, moedig Els mense aan om steeds die voorgeskrewe voorsorgmaatreëls te volg.

“Ons beveel aan dat pasiënte met kroniese en ander mediese toestande slegs hulle dokters of die hospitaal se noodafdeling besoek indien hulle behandeling benodig. Indien jy ʼn kroniese toestand het, bly in verbinding met jou spesialis sodat jou gesondheid behoorlik bestuur kan word. Dit sal help om toekomstige komplikasies te vermy sodat jou langtermyngesondheid nie belemmer word nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Baie goeie nuus, mag hulle nog vele geseende jare saam kan deurbring.

Dana

Wonderlik om sulke positiewe nuus te lees

Yvonne

Sjo dit is wonderlik hoe hulle herstel het