Egpaar keer nié na kleinhoewe terug ná aanval

Gavin Wingrave. Foto: Facebook

Gavin Wingrave, die man van Mpumalanga wat vroeër vandeesmaand voor sy vrou op hul kleinhoewe in Heidelvallei met ʼn hoekyster aangeval is, is steeds in ʼn medies geïnduseerde koma in die hospitaal.

Maroela Media het vroeër berig Wingrave (51), wat in Augustus van moord aangekla is nadat hy homself teen ʼn aanvaller verdedig het, is in ʼn kritieke dog stabiele toestand in die hospitaal. Dié saak is later teruggetrek.

Aanvallers het hom glo ingewag toe hy op 5 September omstreeks 20:30 by die huis aangekom het. Sy vrou, Nadine, het hom glo probeer waarsku, maar hy het inmekaargesak nadat hy erg met ʼn hoekyster aangerand is.

Nadine het die veiligheidshek gesluit waarna die verdagtes toegang probeer kry het. Sy het hulle met pepersproei gespuit waarna hulle op die vlug geslaan het.

Nadine het Maandag aan Maroela Media vertel dokters is baie positief oor haar man se herstel.

“Die mediese personeel het vroeër gesê hulle wil hom uit die koma wakker maak, maar hy is baie onrustig wanneer hy wakker is. Hy trek byvoorbeeld sy bene op na sy bolyf en probeer staan of beweeg baie rond in die bed. Ek het nou al ʼn keer of wat gehoor hy kan dalk in sy drome nog by die aanvallers wees en daarom nog onrustig wees, maar niemand weet regtig nie,” sê sy.

Sy sê Wingrave reageer goed op die mediese behandeling. Dokters wil egter nie in dié stadium ʼn prognose waag nie. “Hy het gister vlugtig in my oë gekyk en toe weer voort geslaap. Ek het hom nou die dag gesoen en hy het my terug gesoen. Hy haal asem op sy eie, so daar is nie lewensgevaarlike probleme nie. Dis bloot maar net ʼn kwessie van tyd. Die susters het gesê hulle gaan definitief nie sukkel om hom uit die bed te kry nie.”

Sy sê die egpaar sal na alle waarskynlikheid nié terugkeer na die kleinhoewe wat hulle huur nie. Nadine bly tans by familie terwyl Wingrave in die hospitaal is. “Ek het nog nie met hom gepraat nie en probeer dit ook nie voor hom sê nie want mense sê hy kan my hoor, maar ek sal nie terugkeer nie. Ons gaan nie terugkeer nie, nie na wat gebeur het nie. Maar ons gaan nie nou daarop fokus nie, sy beterskap is al wat saak maak.”

Maroela Media het vroeër berig Wingrave is op Vrydag 11 Augustus in hegtenis geneem op aanklag van moord nadat hy ʼn aanvaller, vermoedelik ʼn sluipslaper, uit selfverdediging met ʼn mes doodgesteek het. Hy het met ʼn grondpad gery toe die man sy voertuig met ʼn klip gegooi het. Wingrave het stilgehou om na die skade aan die voertuig te kyk toe die man hom na bewering aangeval en met ʼn klip probeer slaan het. Wingrave het die man glo uit selfverdediging met ʼn knipmes gesteek.

Wingrave is dieselfde dag in hegtenis geneem en het die naweek agter tralies deurgebring nadat aanvanklike pogings om hom die Vrydag op borgtog vrygelaat te kry, vrugteloos was. Tydens ʼn volgende hofverskyning op 16 Augustus het die staatsaanklaer ʼn aanbeveling gemaak dat die saak teruggetrek word, wat die hof toe gedoen het.

Volgens Nadine is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie kon ook nog nie bevestig of die twee voorvalle verband hou met mekaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Praat ·

Nadine, praat baie met hom, hy kan beslis hoor en as jy kalmerend is, weet hy die aanval is verby en sy bewegings is regtig ‘n positiewe teken. Ek hoop regtig hy herstel volkome!

Johan. H. ·

Moennie weg hardloop nie, Wanneer hy weer mooie op die been is, kry net n groter beter mes, of geweer. Dankie Vader hy herstel ek bid vir hierdie Held,,

Strategie ·

om weg te bly wys vir hulle dat hulle strategie werk. As enige boere nie na n aanval terugkeer nie, moet nie net heeltemal wegbly nie, kry n sterk boer in die area om daardie grond te huur sodat hulle nie beloon word met vry grond Nie want dan gaan dit net aanhou en meer gebeur.

@volvirgeweld ·

Dis nie n kwessie van stert tussen die bene weghardloop nie….daai wraakgieriges sal terugkom. Ek sou ook nie terug gaan nie. My en my geliefdes se veiligheid kom eerste.

christine ·

Leahin jy was duidelik nog nooit in ‘n soortgelyke situasie nie…
Bly liewer stil jy praat snert.

Leahim ·

Ek respekteer almal se opinies maar dit is van altyd weghardloop en die ander wang draai dat dit so gaan hulle sien die boere is bang .Wat is die verskil tussen 1980 en 2017 ???

LB S ·

Wie sê vir jou die man is ‘n Boer? Hulle huur die plek. Almal is nie opgelei en in staat om terug te veg nie .

Thomas MacNair ·

Ek stem glad nie met jou saam nie Leahim. Dis niks met weghardloop uit te waai nie. As jy terug kyk in geskiedenis sal jy sien dat elke boer wat weg gedraai het dit gedoen het vir die veiligheid van sy familie. Wat hy doen en die redes wat daarmee verbond vind het ook dus niks met ons uit te waai nie. Ek vir een is trots op hom en hoop hy word gou beter want enige man wat bereid is om aan sy familie eers te dink is n man van goud. Hou vas Gavin en die res van die vallei sal jou besluite bystaan en respekteer.

donker duiwel ·

As julle julself afsonder op kleinhoewes is dit net ‘n kwessie van tyd voor julle deurloop. Dit is oorlog teen ons mense. Party van ons wil dit nie aanvaar nie maar maar dit is wat dit is. Ons kan nie een een teen die massas opstaan nie

Mel ·

Ek kan nie die kommentaar glo nie….

Ek sal ook nie op daardie plot gaan sit en maar wag om weer aangeval te word nie.
Hierdie is duidelik wraak – wat anders? Moet hulle nou elke keer in vrees hulle eie woonplek in en uitgaan.
Wat as een van hulle alleen moet aankom, bly, of vertrek?

Nee genugtig – dis blatant dom om te sit en wag tot die volgende aanval gebeur.

Eerder bang-Jan as dooie-Jan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.